Deesdae speel kinders al met tablette en slimfone vandat hul vingers die pad na ’n skerm kon vind. Menige SuperMa het al gewonder: Is dit oukei dat jou kleintjie met jou tablet of slimfoon speel? 

“Solank jou kleuter met opvoedkundige inhoud besig is, is daar eintlik geen verskil tussen ’n tablet en ’n boek nie,” sê Anel Annandale, ’n Kaapse opvoedkundige sielkundige. Dit verbeter ook jou kind se handoog-koördinasie en hul fyn motoriese bewegings. “Maar toets dit voor jy jou kind daarmee vertrou.”

Nighty Night 2-3 jaar

Dié app is eintlik ’n interaktiewe slaaptydstorie met plaasdiere. Laat jou kind elk van die plaasdiere aanraak op die skerm, en kyk dan hoe die diertjies lewe kry. Elke dier se slaapplek het ’n liggie, wat kinders een-een kan afskakel wanneer hulle vir die diere nagsê.

R44,95 by Google Play vir Android en R29,99 in die Apple App Store.

Seisoene 4-5 jaar

Dié Afrikaanse app vir iPhone en iPad leer voorskoolse kinders lag-lag van getalle, vorms en legkaarte. Wanneer jou kind iets reg doen, word hulle beloon met ’n sterretjie, terwyl oulike grafika hulle aanmoedig om aktiwiteite te voltooi.

R21,95 in die Apple App Store.

123s ABCs Handwriting Fun 4-5 jaar

Gee jou kind ’n voorsprong met dié app wat hulle sommer vroeg al leer skryf. Laat jou kind hoof- en kleinletters, getalle van nul tot nege en vorms op die skerm maak; hulle kan ook danksy ’n ingeboude stem hoor hoe dit klink.

Gratis by Google Play.

Paper Dolls 2-3 en 4-5 jaar

Leer jou kind speel-speel hoe om self aan te trek met dié app wat gegrond is op die feëverhale van Hans Christian Andersen. Kinders kan hul gunstelingkarakters se klere en bykomstighede op die raakskerm kies en die karakter aantrek soos hulle daarvan hou. Klik op die kameraikoon in die app en bêre al die uitrustings in ’n fotoalbum.

Gratis in die iTunes-winkel.

Three Little Pigs 2-3 en 4-5 jaar

Kyk hoe dié bekende feëverhaal nuwe lewe kry! Jou tablet is eintlik ’n poppekas, en ’n reeks skerms is die agtergronde waarteen die verhaal afspeel. Jou kind kan na hartelus die karakters van die sprokie rondbeweeg vir elke toneel, en oor die skerm vee om te spring van die strooihuisie heel aan die begin tot by die baksteenhuisie aan die einde.

Gratis in die iTunes-winkel en by Google Play.

Hou in gedagte

Nes met televisie kyk, behoort daar ook reels rondom die gebruik van tablette en slimfone te wees, sê die sielkundige Anel Annandale. Ouers moet ook hul kleuters laat vat aan goed soos boeke en ander speelgoed.

  • Beperk kinders jonger as ses tot 30 minute ‘‘skermtyd’’ per dag.
  • Kinders tussen ses en nege: Tot 60 minute per dag is aanvaarbaar.