TOT nou die dag nog was jy gewaarborg dat die wêreld minstens een Suid-Afrikaanse woord ken, en dit was “apartheid”. ’n Plastiekhoring met baie blêr het alles nou in ’n oogwink verander.

Sedert 11 Junie 2010 ken mense van Argentinië tot Noord-Korea, van Amerika tot Denemarke en Indië die woord “vuvuzela” – die eg-Suid-Afrikaanse instrument wat met ’n magtige dreuning dié simbool van vanjaar se Wêreldbekertoernooi geword het.

En net soos apartheid destyds heftige emosie ontketen het, het ons blêrende blaaspyp gemoedere die afgelope weke behoorlik laat opvlam.

Die stemme van protes wat wou hê vuvuzelas moet van wedstryde verban word, het op dowe ore geval. Fifa het aanvanklik gewik en geweeg, maar gou besef dis ’n tradisie van die gasheerland waarmee die sokkerbeheerliggaam nie durf peuter nie.

Die vuvuzela is hier om te bly, het Fifa se president, Sepp Blatter, toe verklaar; raak maar gewoond aan die gezoem van die plastiekbye.

En net toe televisiestasies soos die BBC begin planne maak om die vuvuzelas se klank uit te doof met die druk van ’n knoppie, gebeur die onverwagte – sokkergeesdriftiges van oor die hele wêreld besef dis eintlik ’n dekselse lekker manier om jou span te ondersteun.

Of miskien was dit ’n geval van as jy nie van die ergernis kan ontsnap nie, bulk dan maar saam . . .

Feit is, byna oornag het vuvukoors soos ’n veldbrand na elke uithoek van die aardbol versprei. Vervaardigers kan nie voorbly nie, en in Engeland het ’n groot kettingwinkel binne dae 40 000 vuvuzelas verkoop. In Europa vlieg die martelpyp van die rakke; in Australië en die Ooste val verspreiders oor hul voete om al die bestellings te verwerk.

En die aanlynverkope van vuvuzelas het met 1000% toegeneem, laat Amazon.com se mense uit Amerika weet.

Hou maar dop as die oorsese besoekers aan Suid-Afrika begin huiswaarts keer: Uit elke rugsak steek ’n vuvuzela . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 1 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!