Kaapstad – .

Jahmeil Galant en ’n familielid (ook 7) het saamgespeel toe ’n ouer kind vuurwerk in sy rigting gooi, het sy ma, Sharlene Galant, Donderdag aan News24 gesê.

“Hy het nader gestap om dit te bekyk en dit opgetel. Dit het toe begin tol en ontplof. My seun is doof en het nie besef wat gebeur het nie. Ek was met afgryse vervul toe die kinders hom huis toe bring en ek sy bloedbesmeerde gesig sien. Hy kon nie sy oë oopmaak nie.”

Sy het met Jahmeil dokter toe gejaag en dié het haar na die Tygerberg-hospitaal verwys. “Terwyl ons daar gesit het, het nog kinders weens vuurwerkbeserings vir behandeling opgedaag. Een meisie het haar vingerpunte verloor omdat ’n klapper in haar hand ontplof het.

"Ons is gelukkig dat hy nie sy oë verloor het nie"

“Ek het net gebid dat my kind nie sy sig moet verloor nie. Ons het deurnag daar gesit; die spesialis het hom die volgende oggend gesien. Toe sy hom ontslaan, het sy vir my gesê ons is gelukkig dat hy nie sy oë verloor het nie.”

Sharlene sê sy het nog nooit vir haar kind vuurwerke gekoop nie. “Dis gevaarlik. Ek sien nie die punt daarvan nie. Al wat dit doen, is om mense te traumatiseer en honde bang te maak. Sedert ons van die hospitaal teruggekeer het, speel my kind nie meer buite nie. Hy is baie getraumatiseer. Ek hoop mense besef watter skade hierdie goed kan aanrig en dat hulle twee keer sal dink voor hulle dit koop.”

Intussen het die Stad Kaapstad gewaarsku niemand onder 16 jaar mag vuurwerke afvuur nie.

Die Kaap die Goeie Hoop-Dierebeskermingsvereniging het ook gevra vir ’n “vuurwerkvrye jaar” en gesê Guy Fawkes-vierings “veroorsaak meer as net een aand se foltering – vir talle verlore en beseerde diere lei dit tot weke se lyding”.

Bron News24