Branderige kos is beslis nie almal se idee van ’n lekker peuselhappie nie, maar een man weet ná dese presies hoe onaangenaam brandkosse kan wees: Vuurwarm rissies het ’n gat in sy slukderm gebrand.

pepperoni-red-sharp-cut-60029-large
Die onbekende man se nare lot is onthul in ’n onlangse artikel wat in die Journal of Emergency Medicine in Amerika vervat is, berig die Washington Post.

“Nadat hy as deel van ’n eetkompetisie rissies geëet het, het ’n 47-jarige man weens kwaai maag- en borspyn, naarheid en braking by ongevalle aangemeld,” lui die verslag.

Die man het glo die besonder warm “bhut jolokia”, oftewel spookrissie, verorber. Dit kom uit Indië en is in 2007 deur Guinness World Records erken as die wêreld se branderigste rissie. Dis sowat 400 keer so warm soos tabascosous. Dit lê nou in die derde plek nadat twee ander vuurwarm rissies dit verbygesteek het.

Dokters het die man te hulp gesnel en danksy X-strale ontdek daar is ’n skeur van sowat 2,5 cm in sy slukderm. Hy was 23 dae lank in die hospitaal. Die skeur is glo veroorsaak deur die onophoudelike naarheid wat hy weens die rissie-etery ervaar het.

“Hierdie geval dien as ’n belangrike herinnering aan hoe lewensgevaarlik sommige mediese noodgevalle kan wees, veral as dokters so iets afmaak as ongemak ná ’n branderige maaltyd,” het die dokters ook geskryf.

Bronne: Washington Post, Journal of Emergency Medicine.