Siesa! Volgens ’n meningspeiling in Brittanje ruil enkellopende mans meestal net vier keer per jaar hul beddegoed om.

Daarteenoor ruil enkellopende vroue gemiddeld elke twee en ’n half weke hul beddegoed om, terwyl paartjies die skoonste is en elke twee weke ’n skoon laken op hul matras sit.

Volgens Jed MacEwan, skakelbeampte van die maatskappy wat die meningspeiling behartig het, bly duisende stukkies dooie vel elke oggend op jou lakens agter ná jou nagrus. As jy dit nie was nie, kan daar onaangename gevolge wees.

“Stofmiete het die perfekte habitat in sulke vuil beddegoed en dis alombekend dat hulle allergiese reaksies, asma, neusontsteking en ander fisiese reaksies kan veroorsaak,” het hy aan Dailymail.co.uk gesê.

Die peiling het ook gewys dat enkellopende mans net een stel beddegoed het, terwyl enkellopende vroue gemiddeld drie het.

Mans en vroue tussen 35 en 50 is volgens die peiling die skoonste – hulle was een keer per week hul beddegoed – maar in dié groep is 62 persent vroue.

In die Kaapse middestad was mans sku om op kamera oor die onderwerp te praat, maar het wel menings gelug.

Volgens Johannes Stemmet (56), ’n makelaar, is hy en sy vrou al 28 jaar getroud, maar het hy haar nog nooit gepols oor hoeveel keer die beddegoed geruil word nie.

“Dit het nog nooit vuil geruik nie, hoor!”

So ook het Jacobus Coetzee (26), ’n restaurant-bestuurder van die Suid-Kaap met vakansie in die moederstad, ’n interessante verskoning hoekom twee maande verbygaan sonder dat hy syne was.

“Ek bly in ’n kleinerige plekkie, en dis moeilik om my lakens in die winter te was – ek kan dit nêrens ophang nie. Soms gaan twee maande verbygaan sonder dat ek dit skrop.”

Jordan Wolmarans (26), tans ’n werklose Kapenaar, het ’n ander verskoning vir die lakens wat hy partykeer nie was nie.

“Dis maar aan en af. As ek in ’n verhouding is, of die aand ’n meisie oornooi, sal ek seker maak dis skoon. Ander kere is ek te lui om dit te doen.”

– Christiaan Boonzaier