Ian (50) het byna drie dekades na inligting oor sy biologiese familie gesoek. En op 26 September het hy uitgevind hy het twee halfbroers en –susters. Sy ma is vier jaar gelede oorlede.

[caption id="attachment_139609" align="alignnone" width="479"]Ian de Roubaix is bly hy kon sy sibbes weer na dekades opspoor. Foto: Verskaf Ian de Roubaix is bly hy kon sy sibbes weer na dekades opspoor. Foto: Verskaf[/caption]

Die Maandagoggend het Ian 'n Facebook-inskrywing geplaas. Teen die middag het hy gehoor mense weet waar hulle is. Ian was 11 dae oud toe sy ma, wat 17 jaar was, gedwing is om hom te laat aanneem.

“Ons gesels telefonies en per e-pos. Ons moet mekaar nou eers leer ken,” sê hy oor sy gevonde halfsibbe. Foto’s is reeds per e-pos oor en weer gestuur en sodra hulle meer van mekaar weet, gaan 'n ontmoeting in lewende lywe volg.

Baie van die gesprekke gaan oor sy ma en die uitleg van die familie. “Daar is sekere inligting wat ek wil hê,” sê hy.

Ian wil nie sy halfbroers en –susters se name noem of sê presies waar in Gauteng hulle woon nie. “Hulle is baie privaat,” sê hy.

Ian, 'n sjef van beroep, sê hy en sy sibbe beoefen uiteenlopende beroepe, maar sy biologiese ouma was 'n sjef. “Ons kunssinnigheid kom van my ma af.”

Hy het jare lank probeer om sy biologiese ma op te spoor. Eers twee maande gelede het hy haar besonderhede by die CMR gekry. Dit is dié inligting wat hy op Facebook gedeel het wat tot die opsporing van sy broers en susters gelei het.