Eers nadat al hul troeteldiere veilig binne was, het sy besef sy is met kwalik meer as ’n T-hemp en haar pantoffels buitentoe.

Trudie het Woensdag op ’n Facebookblad oor dieregesondheid geskryf haar oggend het met ’n groot skok begin. Toe haar man haar bel, het Trudie “met ’n vaart uitgestorm om haar diere te gaan ‘red’.”

Hulle het drie boerboel-labradorkruisings, twee katte, hase, ’n skilpad en ’n voëlhok met voëls.

’n Leeu het die strate van Deneysville in die Vrystaat ingevaar Foto: Jannie du Plessis

In die proses het sy vir mense in die omgewing in Sotho en Engels probeer verduidelik daar is ’n leeu in die omtrek.

“Hul oë het gerek voor hul begin hardloop het,” vertel Trudie ’n dag ná die voorval. “Almal ken die leeuplaas.” 

Nadat al haar diere veilig in die huis was, het Trudie vir haar ’n koppie koffie gaan maak.

“Toe ek my japon stywer om my lyf wil trek, het ek besef ek het net onderklere, ’n T-hemp en pantoffels aan!” 

Die Bothas woon sowat 2 km van die leeuplaas af. Ina van Rooyen, eienaar van die Deneys Croc Ranch, sê die twee leeus het uitgekom nadat hulle onderdeur ’n heining gegrawe het.

“Die leeus is baie mak.”

’n Leeu het die strate van Deneysville verken. Foto: Jannie du Plessis

Ina sê die leeus, wat tussen 30 en 50 m van die heining af gestaan het, het veroorsaak dat motoriste gestop en getoet het. Dit het dit moeiliker gemaak om die diere terug op die perseel te kry.

“Die wyfie is dadelik terug, maar die mannetjie het saam met een van die werknemers van die plaas so ’n 100 m-draai gestap en ’n trop beeste daar naby net so gekyk,” sê sy.

Hulle het ’n veearts ontbied om die mannetjie met ’n pyl lig te verdoof voor hulle hom teruggeneem het.


Save