Die Hoërskool Parys se eksamenrooster is aangepas ná die skielike dood van ’n gr. 11-leerder.

[caption id="attachment_165242" align="alignnone" width="602"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Derik Olivier (16) is Dinsdagaand (21 Maart) op die ongelukstoneel dood verklaar toe hy op ’n grondpad tussen Koppies en Parys vermoedelik beheer oor sy pa se wildkykvoertuig verloor het.

Derik was alleen in die voertuig toe dit na bewering omgeslaan en op hom beland het. Sy ma, Daline, en suster, Menique (14), het op die ongeluk afgekom.

“Dit is baie hartseer nuus,” het Lucien van Zyl, die skoolhoof, aan huisgenoot.com gesê.

Die dag na Derik se dood was leerlinge baie emosioneel en die eksamen, wat op Woensdag sou afskop, is na Donderdag (23 Maart) verskuif.

“Die gemoed was baie laag. Derik was ’n baie geliefde seun by die skool en sy afsterwe laat ’n groot leemte in ons almal se harte.”

Die hoof beskryf hom as ’n ywerige sportman wat deel was van die skool se roei- en krieketspan.

“Hy was ook ’n kranige rugbyspeler wat verlede jaar vir die o.16-span uitgedraf het. Vanjaar het hy vir die tweede span gespeel en sou reserwe vir die eerste span gewees het.”

Derik het ook deelgeneem aan die skool se verhoogproduksie Liefde is… wat volgende week aangebied word.

“Met sy vriendelike, innemende geaardheid was Derik geliefd onder sy vriende en was altyd beleefd teenoor die onderwysers en medeleerlinge.”

Derik se pa, Geo Olivier, boer op die plaas Brakdam buite Parys en was verlede maand deel van die span boere wat die polisie gehelp het om ’n bus vol kinders en onderwysers uit vloedwater te red.

Kapt. Levhani Hani, polisiewoordvoerder vir die gebied, het bevestig ’n saak van manslag geopen is om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.