Die slenter teiken leerders wat in 2016 gematrikuleer het en geld kort om verder te studeer. Leerders word in dié bedrogspul versoek om hul huisadres asook hul ID- en studentenommers per SMS na 079-287-3720 te stuur.

Die Vrystaat se premier, Ace Magashule, het dit afgemaak as onsin en dit in 'n verklaring as “'n slenter” beskryf.

Die Vrystaatse regering het Dinsdag ’n waarskuwing oor ’n beursslenter op sy Facebook-blad gerig.

“Daar het onlangs (sosialemedia-)inskrywings die ronde gedoen wat sê jy moet ’n sekere nommer skakel as jy daarin belangstel om ’n beurs van premier Ace Magashule te ontvang. MOENIE, ONS HERHAAL MOENIE HIERDIE PERSOON KONTAK NIE, DIT IS ’N SLENTER!” het die plaaslike regering geskryf.

Die regering het ook skermgrepe van hierdie slenter op die blad gedeel. Kyk mooi en maak seker jy trap nie in hierdie strik nie!