TOE die middeljarige Britse egpaar op ’n Sondagoggend middle vandeesmaand vir die eerste keer in meer as ’n jaar

in die openbaar in Somalië uitstap, het die klein groepie teenwoordiges spontaan van vreugde hande geklap.

Die twee was moeg, uitgeteer en emosioneel stukkend, maar hulle kon nie ophou glimlag nie. Want ná 13 maande van hel in ’n Somaliese seerower-nes is Paul (60) en Rachel Chandler (57) nou vrygelaat – en so is ’n einde gebring aan ’n dramatise en uitgerekte gyselaarsdrama wat die hele wêreld aangegryp het.

Suid-Afrikaners wat saam met die egpaar bly was, het terselfdertyd ook ’n skietgebedjie opgestuur vir ons eie paar wat pas daar deur Somaliese seerowers weggevoer is: Bruno Pelizzari en Debbie Calitz.

Oor hul lot is in dié stadium nog niks bekend nie.

Bruno en Debbie is vroeër vandeesmaand ontvoer van die seiljag waarop hulle en die skipper, Peter Eldridge, van Tanzanië na Richardsbaai onderweg was. Peter het ontsnap en is vol vertroue dat sy vriende ook ongedeerd vrygelaat sal word as die losprys eers betaal is, nes die geval was met Paul en Rachel.

Maar die seerowers het nog niks van hulle laat hoor nie. Bruno en Debbie is twee van ongeveer 500 mense wat in haglike omstandighede deur Somaliese seerowers aangehou word.

Intussen moet die vrygelate Paul en Rachel nou die stukkies van hul lewe optel.

Hul nagmerrie-ondervinding het op 23 Oktober verlede jaar begin. Dit was ’n donker nag toe Paul en Rachel, seevaartliefhebbers wat sedert vier jaar tevore ses maande per jaar op hul seiljag deurbring, ter see deur seerowers oorval is.

Hulle is gebring na Harardhere, ’n seerower-skuilplek in Somalië, en onderhandelinge oor hul vrylating het met die

Chandler-familie in Brittanje begin.

R54 miljoen – dis wat die rowers aanvanklik gemeen het hul slagoffers werd is. Groot was hul verbasing toe hulle by die familie moes hoor Paul en Rachel is eintlik twee afgetrede mense wat in hul eie klein seiljag rondreis, en nie mense met bande met ’n groot internasionale onderneming wat baie geld sou uithaal nie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 25 November 2010