Hierdie vrugtige lagie-jellie sal jou kinders opgewonde oor vrugte maak. Dis ’n heerlike bederfie vir die hele familie.

Bereiding: 10 minute

Verkoeling: sowat 2 uur

Genoeg vir 4-6 mense

Vrugtemengsel

  • 3 elk droëperskes, -pere en -appelringe
  • 125 ml (omtrent 8) aarbeie, gewas, plus ekstra, gekap
  • 2 elk rooi appels en ryp piesangs
  • 250 ml (1 k) aarbeijogurt
  • 30 ml (2 e) kookwater
  • 10 ml (2 t) gelatienpoeier
  • 1 pakkie elk rooi, groen en geel jellie
  • 250 ml (1 k) vla

Plaas die droëvrugte, aarbeie, appels en piesangs in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. Voeg die jogurt by en meng goed. Plaas die water in ’n groot bak, sprinkel die gelatien oor en laat staan tot opgelos en sponserig. Verhit 30 sekondes in die mikrogolfoond, voeg die vrugtemengsel by en klop tot goed gemeng. Giet in vier tot ses glase en verkoel tot gestol. Maak die jellies apart aan volgens die aanwysings op die verpakking en giet op die gestolde lae in die glase (een kleur per glas). Verkoel in die yskas tot gestol. Giet ’n lagie vla oor en versier met gekapte aarbei.

Lekker wenk

Pleks van vrugte gebruik, kan jy 500 ml (2 k) van jou kind se gunsteling-jogurt meng met 15 ml (1 e) gelatien wat opgelos is in 30 ml (2 e) warm water. Verkoel in die yskas. Gaan dan voort met lae jellie en vla.