[caption id="attachment_161580" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto ter illustrasie.[/caption]

Twee van die messe was nog in haar bors en drie ander het om haar lyk gelê toe wetstoepassers Maandagnag op die moordtoneel aankom.

Die vrou, wat intussen as die 29-jarige Priska Schalk geïdentifiseer is, het op haar rug gelê in die kamer wat sy in ’n huis in Commissionerstraat hier aan die Oos-Rand gehuur het.

Kapt. Jethro Mtshali, plaaslike polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Huisgenoot gesê bure het die vrou se noodkrete tydens die aanval omstreeks 22:00 gehoor en die polisie ontbied.

Volgens Jethro soek die polisie nog naarstiglik na Priska se moordenaar.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die 28-jarige verdagte het van die toneel gevlug,” het hy bevestig. Jethro vertel die bure het glo die aand ’n stryery gehoor.

Die verdagte, wat nie geïdentifiseer kan word voor hy in hegtenis geneem en in die hof verskyn het nie, was glo in ’n verhouding met die oorledene.

Nooddienswerkers van ER24, wat deur die polisie ontbied is, het bevind die vrou het in haar bed aan haar wonde beswyk.

Jethro sê die vrou is meermale gesteek, maar die lykskouing gaan nog moet bepaal presies hoeveel keer.