Heidi Rowley het haar planne vir ’n mediese loopbaan 26 jaar gelede die rug toegekeer en haar op die Suid-Afrikaanse welsynorganisasie Reik na ’n Droom begin toespits.

Die ma van twee het, as een van die eerste vrywilligers van die stigting, die drome help bewaarheid van duisende kinders wat teen lewensbedreigende siektes veg.

“Dit was altyd my passie om mense te help. Ek hou van die gevoel dat ek ’n bietjie verandering in hierdie wêreld gebring het. Ons leer so baie by ons kinders en dit is wonderlik om hul pragtige glimlaggies te sien wanneer ek die kans kry om die goeie fee te speel.”

Die stigting maak al vir 28 jaar die drome waar van Suid-Afrikaanse kinders tussen 3 en 18 jaar wat teen siektes soos kanker, sistiese fibrose en hartsiektes veg. Die kinders kry hoop en aanmoediging deur die geskenk van ’n spesiale droom wat hulle as onmoontlik beskou het.

“Daar was so baie onvergeetlike oomblikke – van reëlings tref vir ’n spesiale droom vir ’n 12-jarige seun wat gedroom het om in ’n Silwervalk te vlieg, tot die meisietjie wat die strand geniet, met haar tone in die sand gegrawe en KFC geëet het.

“Ons Silwervalk-dromer was veral vir my onvergeetlik omdat Jaco heeltemal van die pyn vergeet het en die grootste glimlag op sy gesig gehad het toe hulle land. Hoewel hy drie dae daarna oorlede is, het sy ouers vertel hoe sy droom hulle gehelp het om die verlies te verwerk, want hulle kon terugkyk op die spesiale herinnering aan sy droom wat waar geword het en hoeveel dit vir hom beteken het.”

Die stigting het van krag tot krag gegaan, van die eenvoudige begin toe hulle uit ’n motorhuis gewerk het tot waar dit vandag landwyd ’n welbekende naam geword het. Heidi se persoonlike reis saam met Reik na ’n Droom het, nadat sy een van die eerste vrywilligers was, soveel gegroei dat sy die nasionale direkteur vir die Wes-Kaap geword het.

“Ek glo elke mens het ’n doel en dit is fantasties as jy jou doel vind. Vir my is daardie doel om een dag op ’n slag te dien en ’n betekenisvolle verskil te maak – vir my voldoen Ryk na ’n Droom aan daardie doel.”

Heidi glo daarin om op die beste manier moontlik te leef en dit sluit ’n balans tussen vars lug, sonskyn, oefening, bak en vriendskappe in. Haar opgewondenheid en passie vir die lewe strek tot in haar persoonlike lewe en die werk waar sy ’n span van 53 toegewyde vrywilligers lei.

“Ek voel so gelukkig dat ons sulke passievolle, toegewyde en wonderlike mense het wat die grondslag vorm vir ons sukses, van ons personeel tot by ons skenkers en nasionale bestuur. Daar is soveel hartseer in die wêreld, maar dit hang van ons af om ons bes te doen om dit ’n beter plek te maak,” sê sy.

Sy sê voorts haar werk het haar geleer om dapper te wees, dat dit noodsaaklik is om jou drome uit te leef en die vermoë te hê om die gawe van die hede en die pad vorentoe te geniet.

“Ons behoort almal vir vandag te leef want ons weet nooit wat môre gaan bring nie. Dit is ’n cliché, maar die lewe is so kort en ons kom dit so dikwels teë. Ons moet die beste haal uit elke dag wat aan ons geskenk is. Ons sien elke dag hierdie soort krag en veglus in die kinders en ek voel so trots om hul drome te kan bewaarheid. Ek tel elke dag my seëninge.”

Bron: ggisa.com