Duisende Suid-Afrikaanse vroue het op 9 Augustus 1956 aan 'n nasionale optog teen die paswette deelgeneem. Vandag word Vrouedag gevier te herdenking van daardie dag in Suid-Afrika se geskiedenis.

Ons het besluit om ‘n paar plaaslike bekendes te nader om uit te vind wie die mees inspirerende vrou in hulle lewens is.

Angelique Gerber:

My mamma, Lynette, en natuurlik ook my nuwe mamma Ben-G se ma. Twee vrouens wat sag, sterk en fantastiese moeders is. Eks baie lief vir hulle. Maar enige vrou wat haarself is en mooi na haarself kyk ongeag van haar omstandighede is inspirerend vir my.

Katlego Maboe:

Dit is sonder twyfel my Ma. Sy het soveel geleenthede in haar eie lewe prysgegee om te verseker dat ek 'n moontlike beter lewen kon hê. Sy het my geleer wat dit beteken om iemand lief te hê en te vergewe al het hulle jou seergemaak.

Nico Panatagio:

My ma en Christi. Die sêding dat jy met ‘n vrou trou wat net soos jou ma is geld 100% in my geval. Sedert ma se dood is die mees inspirenrende vrou in my lewe beslis Christi.

Elana Afrika:

Oh wow. Daar is drie vroue. My ma, Doreen Morris en Edith Venter. Ek noem al drie van hulle ma. Elkeen van hulle het my aangemoedig en in my geglo.

Wicus van der Merwe:

My ma en my vrou. Hulle is die enigste twee vroue wat dit langer as ‘n uur met my kan uithou en steeds vir my lief kan wees. Hulle verdien baie respek.

Bobby van Jaarsveld:

Ek het twee. My ma kan enigiets laat gebeur en laat werk. My vrou is my rots en my lewe.

Bouwer Bosch:

My ma! Marie Bosch die tandarts-assistent! Sy het gehelp om die Bosch-fort aan die gang te hou deur al ons finansiële probleme op skool.

Jakkie Louw: 

My eie ma, Elma Louw. Sy het sewe kinders grootgemaak en lyk vandag omtrent 15 jaar jonger as wat sy is. Sy is 'n sterk, eerlike, gawe, Afrikaanse vrou.

Arno Jordaan: 

Op hierdie stadium van my lewe is my verloofde, Lizanie Pohl, beslis die mees inspirerende vrou in my lewe.  Sy ken en verstaan my. Wanneer ek af of moedeloos is, sal sy met haar begrip en liefde my weer ophef en help om met 'n positiewe gesindheid na alles rondom my te kyk.  Ek kan maar net die Here dank dat Hy iemand soos sy oor my lewenspad gestuur het wat elke dag vir my 'n inspirasie kan wees!

Volg Huisgenoot op Twitter.