Nicki Minaj sê daar is niks fout daarmee as vroue mans soms aaklig behandel nie, want mans wil “soos honde gevoer en vertroetel word”.

Die popster (30), wie se regte naam Onika Tanya Maraj is, dink dis oukei as vroue soms streng en onredelik optree en moedig vroue aan om nie agter mans aan te hol nie.

Sy het aan die Amerikaanse uitgawe van Marie Claire gesê: “Moenie agter enige man aanhardloop nie; mans is mal oor onafhanklike vroue. Jy hoef altyd nie ’n feeks te wees nie, maar soms is dit oukei.”

Nicki gaan al vier jaar lank met Safaree Samuels uit en hy is ook haar persoonlike assistent.

Sy het bygevoeg: “In hul harte is mans eintlik kinders. Hulle wil soos honde gevoer en vertroetel word. Ek wil ook eendag ’n ma wees en wil nou die vrou begin word wat ek wil hê my kind moet grootmaak.”

Maar sy is onlangs gesien toe sy ontkleedansers by ’n klub in New York se boude gryp en knyp . . . en dit glo tydens haar kêrel se verjaardagviering. Tydens die onderhoud het sy ook gesê: “Party mense lei hierdie lewe vyf of 10 jaar lank; ek wil nie iemand word wat nie die oomblik geniet nie.”