’n Kykie na

Sewe van die 10 glansmense wat die meeste verdien het, is vroulik. Lady Gaga (27) is bo-aan die lys; sy het die afgelope jaar $80 miljoen (sowat R800 miljoen) verdien uit haar treffers, Born This Way-toer en talle advertensie-onderskrywings.

Lady Gaga, wie se regte naam Stefani Joanne Angelina Germanotta is, sou nog meer verdien het as sy nie haar heup beseer het en van haar toerdatdums moes kanselleer nie. In dié tyd is in ’n rolstoel van 24 karaat goud rondgestoot.

Haar verdienste laat selfs vir Justin Bieber (19) pieperig lyk; die Kanadese tienerster het maar $58 miljoen (R580 miljoen) verdien.

Die platejoggie en vervaardiger Calvin Harris (29) is die man met die tweede grootste salaristjek: $46 miljoen (R460 miljoen).

Die akteur Taylor Lautner (21) is die enigste ander man onder die top-10. Hy beklee die laaste plek met ’n verdienste van $22 miljoen (R220 miljoen).

Die sangeres Taylor Swift (23) het die lys gehaal danksy haar jaarverdienste van $55 miljoen (R550 miljoen). So ook die sangeresse Rihanna (25) met $43 miljoen (R430 miljoen), Katy Perry met $39 miljoen (R390 miljoen) en Adele met $25 miljoen (R250 miljoen).

Die aktrises Jennifer Lawrence (22), met ’n verdienste van $26 miljoen (R260 miljoen), en Kristen Stewart (23), wat $22 miljoen (R220 miljoen) huis toe gevat het, is ook op die lys.

Maar dis nie net jong vroue wat in die vermaakbedryf koning kraai nie. Die kletskoningin Oprah Winfrey (59) is bo-aan die lys van magtigste glansmense wat Forbes in Junie uitgereik het. Die top-10 op daardie lys word ook deur vroue oorheers, onder andere Lady Gaga, Beyoncé (31), Madonna (54), Taylor Swift en Ellen DeGeneres (55). Steven Spielberg (66), Jon Bon Jovi (51), Roger Federer (31) en Biebs was die enigste mans wat die paal gehaal het.

Maar dis nie net seksuele aantrekkingskrag wat bydra tot die vroue se hoë status onder glansmense met ’n topverdienste nie, sê Kate Dries, ’n blogger vir die snedige feministiese webtuiste Jezebel.com.

“Die lys spreek tot die ongelooflike veelsydigheid wat musikante deesdae het met geld maak,” voer sy aan. “Hulle het dit reggekry om nie net musikante te word nie, hulle is uitvoerende kunstenaars met vele fasette.”

Dit beteken hulle het skitterende handelsmerk-ambassadeurs geword. En omdat vroue in die algemeen meer as mans bestee – op klere, skoene, grimering en kruideniersware, om maar ’n maar kategorieë te noem – is vroulike sterre meer in aanvraag as hul manlike tydgenote.

“Vroue soos Lady Gaga, Rihanna, Taylor Swift en Katy Perry is hul groot fortuine grootliks verskuldig aan onderskrywingsooreenkomste en hul keuse om hul naam op goed soos geurmiddels te plaas,” sê Kate. Selfs Bieber, sê sy, “is grootliks suksesvol omdat hy goed aan vroue verkoop”.

– Andy Goldberg/Sapa

sapalogo