’n Russiese vrou het met ’n geslagsverandering haar skuldeisers probeer ontduik. Tog is sy steeds verantwoordelik vir die skuld, het ’n Russiese balju Maandag beslis.

“Die debiteur het met haar geslagsverandering haar skuld probeer ontduik,” lui ’n verslag van die balju in die suidelike gebied Astrakan.

’n Woordvoerder van die balju het aan AFP gesê: “Die 38-jarige vrou, wat net bekendstaan as Natalja, het met ’n geslagsverandering ’n man genaamd Andrian geword nadat sy sowat R42 000 skuld gemaak het.

“Tydens ons ondersoek het ons vasgestel die vrou bestaan nie meer nie; daar bestaan ’n man in haar plek,” het Jewgenia Zariensj gesê.

Ná die geslagsverandering het die man ’n nuwe paspoort met ander besonderhede gekry. Hy het dit gebruik as ’n identiteitsdokument om nog skuld te maak.

Selfs sulke drastiese maatreëls kon nie die skuld delg wat Andrian gemaak het toe hy ’n vrou was nie, het Jewgenia gesê.

“Hy is ten spyte van die geslagsverandering  steeds verantwoordelik vir die skuld en sal dit nog moet afbetaal. As enige debiteur dink hy kan so sy skuld vryspring, maak hy ’n groot fout.”

Andrian, wat nou voortvlugtig is, het ook nie sy belasting betaal nie.

– Sapa