Margot Gerster (30) het die dag ná die Amerikaanse presidentsverkiesing met haar babadogter en hond in ’n parkie gaan stap toe sy Hillary sien. Hillary (69) en haar man, Bill (70), het dieselfde idee gehad. Salig het hulle ook met hul honde gaan stap.

“Ek het so hartseer gevoel ná die verkiesing en besluit daar is nie ’n beter manier om te ontspan as om my dogter te vat vir ’n stappie nie,” het sy op Facebook geskryf.

Sy het toe vir Hillary gevra of hulle ’n foto saam kan neem en die politikus het ingestem. Margot se Facebook-inskrywing is intussen wyd in die sosiale media gedeel, en hoewel die meeste reaksies positief is, blyk dit dat sy doodsdreigemente ook kry, berig New York Magazine.

Sy het aan die tydskrif bevestig sy ontvang dreigemente, maar sy wou nie daaroor uitwei nie.

“Ek wil hê hierdie storie moet nou weggaan,” het sy gesê.

“Daar was baie positiewe reaksies, maar ek wil nie olie op die vuur gooi nie.”