Die Ford Explorer waarin die twee in Hawaii rondgery het, het op 29 Mei 2016 sowat 60 m teen ’n krans afgerol en op lawarotse beland.

Anastasia het op die toneel gesterf terwyl Alexandria in ’n kritieke toestand die ongeluk oorleef het.

A photo posted by D Santos (@notinotas) on
Die staat het destyds beweer Alexandria het doelbewus die dood van haar tweelingsuster veroorsaak. Anastasia was op daardie noodlottige dag ’n passasier terwyl Alexandria agter die stuur was. Alexandria is vroeg in Junie verlede jaar in hegtenis geneem en aanvanklik van strafbare manslag aangekla. Daar was kommer dat sy nie net die staat nie, maar ook die land sou verlaat voordat die hofverrigtinge afgehandel sou word. Haar regsverteenwoordiger, Todd Eddins, het dit egter as bog afgemaak. Volgens hom wou sy bloot haar suster se begrafnis buite Hawaii bygewoon het. Alexandria het wel op vlug geslaan en in New York opgeëindig.
Intussen sou ’n regter in Hawaii nietemin Alexandria se vrylating aanbeveel nadat daar bevind is daar is nie voldoende rede vir ’n moordklag nie. In Augustus bots Alexandria in New York weer met die gereg toe sy byna ’n speurder se voertuig tref terwyl sy onder die invloed agter die stuur was. Sy is drie weke later vrygelaat. Maar op 11 November sluit die boeie weer om haar polse – dié keer omdat die jurie in Hawaii in die lig van nuwe, dog tot nou toe onbekende, getuienis beslis dat sy wel van manslag aangekla kan word.

Byna nege maande na haar suster se dood is daar borg van sowat R2,7 miljoen (kontant) aan Alexandria toegestaan.

Peter Cahill, ’n regter van die rondgaande hof in Hawaii, het duidelike instruksies aan Alexandria gegee rondom haar borgvoorwaardes: “Jy mag nie eers na die lughawe gaan om enigiemand op te tel nie. As jy gesinslede het wat hiernatoe kom, moet hulle self hul eie vervoerreëlings tref.” Sy sal ook lukraak vir dwelm- en drankgebruik getoets word binne die eerste 24 uur na haar vrylating. Meer oor die ongeluk: Verskeie ooggetuies het die tweeling se laaste oomblikke saam gadegeslaan. Alexandria het glo die motor op die hoofweg tot stilstand gebring.

Sy en haar suster was glo ernstig aan’t baklei in die motor en dit het in ’n fisiese geveg ontaard waartydens Anastasia Alexandria se hare wou uittrek.

“Jy kon sien sy (Alexandria) het gewelddadig op iemand gevloek in die motor. Sy was boos en toe sy wegtrek, was dit in ’n woedebui,” het Lawrence Lau, een van die ooggetuies vertel.

Hy het ook vertel hoe die voertuig skielik versnel het. Dit het na bewering die motor waarin hy en ’n groep Boy Scouts gereis het, rakelings gemis voordat dit teen die krans afgetuimel het.

Daar was geen poging van Alexandria se kant om te rem nie. Gerugte van fisiese en vurige argumente tussen Alexandria en Anastasia: Die blonde tweeling is op 24 Desember 2015 in Hawaii in hegtenis geneem vir wanordelike gedrag. Hulle het nie vir hul verhoor opgedaag nie en daar was ’n arrestasiebevel teen hulle aanhandig gemaak. Keith Weiss het die tweeling na bewering goed geken. Hy bestempel sy ervaring in ’n motor met dié bakleierige tweeling as skrikwekkend.

Daar was volgens hom twee “baie intense” insidente tussen die twee susters wat byna op ’n ongeluk uitgeloop het. Anastasia, met wie hy in daardie stadium uitgegaan het, het glo bestuur toe die twee begin baklei het.

“Sy’t die stuurwiel gelos en hulle het mekaar oor en weer getakel. Sy’t byna beheer oor die motor verloor,” het hy vertel.

Hy was self een keer aan die ontvangkant toe hy nie wou stop om wyn vir die twee te koop nie. Anastasia het glo sy hande van die stuurwiel afgeskop. Keith sê dit was duidelik dat nie een van die twee omgegee het of hulle ’n ongeluk kon veroorsaak het nie.

Volgens hom het die bakleiery in geweld toegeneem namate die twee se alkoholvlakke gestyg het.

Meer oor die tweeling se agtergrond en hul nuwe name

Die tweeling, gedoop as Alison en Ann Dadow, word as briljante alleenlopers op skool beskryf. Hulle het volgens berigte selde met ander kinders gemeng.

Hul ma, Maureen, het skielik gesterf toe hulle vyf jaar oud was. ’n Ouer suster, Amy, en hul pa, John Dadow (’n gevangenisdokter), het hulle grootgemaak. Hy sou na bewering die twee vrye teuels gee om met sy Cadillac rond te ry en duisende rande op ontwerpersklere te blaas. Alison en Ann het naam verwerf as fiksheid-kenners en joga-instrukteurs. Hulle het om een of ander hul name na Alexandria and Anastasia Duval verander toe hulle in 2015 na Hawaii verhuis het. Daar word gegis dat die name meer eksoties sou klink. Ten spyte van hul eie naamsverandering, het hulle die naam van hul studio deurentyd behou: Twin Power-joga.

Die eerste studio is in 2008 in Palm Beach Gardens geopen en ’n tweede in West Palm Beach. Hulle het glo gehou van die glanslewe en volgens berigte het die twee in eenderse Porsches rondgery.

Praatjies met ’n televisiekanaal het byna die twee se drome van roem verwesenlik.

Hulle het op aandrang van die kanaal glo ’n klein fortuin op die opgradering van hul joga-studio spandeer. Toe word die reeks gekanselleer . . . Dit het hulle al hoe dieper in die skuld gedompel. In 2014 sluit hulle onverwags die studio se deure en gaan na Utah sonder om van hul personeellede te betaal. Ook kliënte is met hul hande in die hare gelaat met lidmaatskapsfooie wat nie terugbetaal is nie. Van hul kliënte het die twee as onbeskof, chaoties, ongeorganiseerd en baie gemeen beskryf.

Maar Utah is nog minder van ’n gelukkige einde en die twee doen aansoek om bankrot verklaar te word.

Anastasia, oftewel Ann, se hofrekords vertel ’n verhaal van dronk wees in die openbaar, wangedrag, aanval op ’n polisieman, aanranding, weerstand bied teen inhegtenisname en kleiner oortredings in Noord-Carolina.

Alexandria, oorspronklik Alison, se hofrekords is ewe omvangryk: bestuur onder die invloed, vlug van ’n ongelukstoneel, bestuur sonder bewys van versekering, dronk in die openbaar, wangedrag, bedrog en ander ongespesifiseerde oortredings.

Ousus Amy (41) het ook al verskeie kere in die warm water beland as gevolg van drank. Haar pa het glo verlede jaar ’n beskermingsbevel teen haar versoek nadat sy hom gevloek en met goeters gegooi het.

Bronne: mauinews, foxnews.com, bigstory.ap.org, hawaiinewsnow.com, heavy.com, khon2.com, news.au.com, ctvnews.ca