Marina (21) het onder meer krake in haar wangbeen en bloeding in haar oog opgedoen en van haar tande is gebreek.

Haar ma, Dorothy van Zyl, het opslae gemaak toe sy vroeër vandeesweek, kort ná die voorval by Van Dyk se huis op 22 Julie, foto's van haar erg beseerde kind op haar Facebook-blad geplaas het. Daarby het sy geskryf:

"Ek deel hierdie foto's van my liefiekind wat Saterdagaand aangerand was deur hierdie man op die foto... My kind, ons staan almal by jou...''

Die Facebook-steungroep Support Marina het binne dae ná die aanranding reeds meer as 'n 1 000 volgelinge gehad, en verskeie burgerlike groepe het laat blyk hulle sal haar ook gedurende die hofsaak onderskraag.

"Die swelling aan my lippe het so 90 persent gesak, maar binne is my mond nog baie stukkend,'' vertel Marina nou aan Huisgenoot.Met haar wangbeen wat boonop op drie plekke gekraak is en haar gebreekte tande, sukkel sy nog baie om te eet.

"Ek het ook nog dubbele visie in my een oog, kan nie boontoe of links kyk nie." En die dokter sal weer Maandag kyk hoe haar wang behandel kan word, of daar geopereer moet word.

"Hy [Van Dyk] het ook meer as een kol van my hare uitgeruk," vertel sy. Dit was toe hy haar ten tye van die skielike aanranding aan haar hare rondgesleep het, sê sy.

Sy's nie seker wat presies hom eensklaps tot so iets gedryf het nie, maar meen hy het haar moontlik in 'n vlaag van jaloesie aangeval. Hy het aan haar gesê sy het by 'n ander man by die vleisbraai by sy huis aangelê, vertel sy.

Van Dyk het teenoor Netwerk24 ontken dat hy haar aangerand het, beweer dat sy en haar suster dwelms op sy erf gebruik het en sy beseer is toe hy haar in 'n daaropvolgende onderonsie van hom af weggestamp en sy op haar gesig geval het.

Hy het ook gesê dat hy talle dreigboodskappe ontvang het nadat die foto's van die beseerde Marina op Facebook verskyn het.

In 'n skermgreep wat Support Marina geplaas het, volgens hulle 'n WhatsApp-boodskap wat Van Dyk aan Marina gestuur het, smeek hy haar om vergifnis, sê hy het "opgev*k" en dat hy lief is vir haar.

Een van die vorige vroue in Van Dyk se lewe het aan Huisgenoot bevestig dat hy haar, soos vroeër berig, aangerand het.

Van Dyk verskyn 31 Julie weer op aanklag van aanranding in die landdroshof op Odendaalsrus, en Marina op 2 Augustus in verband met 'n interdik teen hom.

Ekstra bronne: netwerk24, Facebook