Daarom moes sy skelmpies die eerste boek deur haar 21-jarige dogter, Natasha, getiteld Die Miljoenêr en sy Cinderella-tipe Meisie, by ’n drukker in Pretoria kry. Sy betaal nou nog af, maar die boksie vol boeke deur haar dogter, wat ’n leeragterstand het, is vir haar ’n kleinood. Sy probeer dit by soveel mense moontlik uitkry.

Nadat sy die 100 bladsye van die boek op ’n vriendin se rekenaar afgelaai en hulle van die foute reggemaak het, het sy dit op ’n geheuestokkie gesit om by ’n ander vriendin af te laai.

“Nou moet ek dit bemark,” sê Francien.

Maar eers moet dringender sake aandag geniet. Natasha was by ’n dokter op Bredasdorp vir ’n breinskandering om die oorsaak van haar aanhoudende hoofpyn vas te stel.

Dit spruit moontlik uit die feit dat haar biologiese pa haar voor haar geboorte al aangerand het.

Hulle het toe vasgestel daar is drukking op haar brein. Haar hartklop is ook te vinnig, sy het ’n ooraktiewe skildklier en ’n werwel in haar rug het uitgeskuif. Sy sal ook vir nog opvolgbesoeke moet gaan, vertel Francien.

Natasha se jong lewe saam met haar ma klink soos ’n boek vol tragedie, dapperheid en oorwinning. “Ek was met die verkeerde man deurmekaar. Hy was hardhandig,” erken Francien.

Die Miljoenêr en sy Cinderella-tipe Meisie is ’n liefdesverhaal oor twee mense wat saam die pad na ware liefde stap – al moet hulle klippe kou om daar uit te kom.

Natasha ken daardie wrede pad vol struikelblokke. Toe haar ma vier of vyf maande met haar swanger was, het Francien se eksman haar in haar swanger maag geskop. Natasha se brein het toe seergekry.

Toe Natasha vyf maande oud is, het haar pa haar weer aangerand. “Sy was in haar loopring op die sementpaadjie voor die huis toe hy haar teen die kop skop. Sy het in die roosbome beland,” onthou Francien.

Dié keer is die linkerkant van haar brein beseer. Daarom is Natasha steeds soos ’n kind in ’n jong vrou se lyf.

Natasha Klue by ’n ATKV uitstalling met haar boek Die Miljoenêr en sy Cinderella-tipe Meisie

“Daardie man was gevaarlik. Die dokter het my aangeraai om nie ’n klag teen hom aanhangig te maak nie en hom eerder net te los,” voeg sy by. Sy het van hom geskei.

Francien het net een nier en moet die dokter gereeld besoek. Sy het ook al verskeie operasies aan haar mond ondergaan. Hul lewe is dus nie maklik nie, maar hulle laat nie toe dat hul gesondheidsuitdagings hulle agterhou nie.

“Ek werk my hande deur. Ek moet ook na my pa omsien. Die Here help ons deur alles. Ek verkoop enigiets; ook tweedehandse klere op verskillende afsetplekke. Ek sou graag wou bak. Ek hou van bak, maar ons het nie die geld om bestanddele te koop nie.”

Almal het gesê sy moet Natasha in ’n spesiale skool sit, maar Francien het vasgeskop. “Sy was in die gewone skool op die dorp. Dit was met tye hel en sy moes gr. 11 herhaal, maar sy is goed deur matriek.”

En Natasha verslind die boeke in die dorpsbiblioteek en die klompie op die boekrak. “Sy doen baie navorsing oor die plekke waar haar stories afspeel. Sy kyk baie flieks en is reeds met ’n nuwe boek besig.”

Dit is glo ’n avontuurverhaal waaroor Natasha baie geheimsinnig is.

Sy sou bitter graag haar stories op haar eie skootrekenaar wou skryf, dalk ’n storie in Huisgenoot laat publiseer of eendag ’n blitsverkoper skryf wat van die rakke af vlieg.

“En ek glo sy sal,” sê Francien. “Sy druk deur as sy iets wil doen.”