Die Amerikaanse vrou wat Maandag by die Leeupark buite Johannesburg deur ’n leeu doodgebyt is, is deur die Daily Mail as Katherine Chappell, 29, geïdentifiseer.

Sy was ’n filmredigeerder en natuurbewaarder wat na Suid-Afrika gekom het om wilde diere teen stropers te probeer beskerm.

Katherine, wat oorspronklik van New York kom, woon sedert Desember 2013 in Vancouver, waar sy vir die produksiemaatskappy Scanline gewerk het.

Sy het gehelp om grafiese effekte vir onder meer Game of Thrones, Captain America: The Winter Soldier en Divergence te skep.

Sy het verlede week van Vancouver in Kanada na Suid-Afrika gevlieg.

Sy het Maandag saam met haar toergids, Pierre Potgieter, deur die Leeupark gery en foto’s deur ’n oop venster geneem toe ’n leeu haar deur die venster beetgekry het.

Sy het op die toneel aan haar wonde beswyk.

Volgens Netwerk24 kon Katherine nie wag om saam met die leeus in die Leeupark te gaan stap nie.

“Die voorval het gebeur terwyl sy eintlik gewag het om saam met leeus te stap,” het Pierre se vrou, Corlien, Dinsdag aan Beeld gesê.

Pierre is beseer toe hy die leeu van die vrou probeer afkry het. Dit lyk of hy ’n ligte hartaanval gekry het van die skok, het sy gesê.

Pierre werk al sowat 18 maande as toergids en besoek die Leeupark gereeld.

Bronne: Netwerk24, Daily Mail