’n Vrou (21) van die Amerikaanse deelstaat Wisconsin is dood nadat sy tydens ’n partytjie in ’n kortbroek buitentoe is in vriesende temperature van -21 °C.

’n Verbyganger het op Elizabeth Luebke se lyk afgekom, net ’n paar blokke van die huis af waar sy ’n partytjie bygewoon het.

Beeldmateriaal wat van sekuriteitskameras in die omgewing verkry is, wys hoe Elizabeth in die straat afdwaal en skielik inmekaarsak.

Die voorval het vroeg Sondagoggend gebeur ná ’n konsert die vorige aand in haar tuisstad, Milwaukee.

Lees ook: 21-jarige draai by die dood om ná wilde nag van partytjie hou

Op die video kan gesien word dat Elizabeth rondom halfvyf Sondagoggend geklee in net ’n toppie en kortbroek straataf stap. Dit was ’n vriesend koue aand met temperature benede -32 °C.

Amptenare het bevestig Elizabeth se liggaam was “grootliks gevries” toe dit gevind is. Ook dat sy beslis nie teen die koue aangetrek was nie. ’n Warm top is wel naby haar lyk gekry.

’n Vriend het aan die nuuskanaal Fox 6 genoem dat Elizabeth ’n onderonsie met ’n mede-partytjieganger gehad het, waarna sy die partytjie verlaat het.

“Sy was regtig baie dronk toe sy by die partytjie opdaag,” het die vriend vertel. “Sy het toe in ’n rusie met ’n vriend betrokke geraak, en uitgestorm.”

Intussen het Elizabeth se ma die polisie ingelig haar dogter het gereeld te veel gedrink en was Oktober verlede jaar in die hospitaal om vir alkoholvergiftiging behandel te word.

Lees ook: Skelet, kompleet met klere aan, langs die N1 gevind

Die polisie wil wel weet presies hoekom Elizabeth die partytjie verlaat het en wat die omstandighede rondom die “rusie” was wat sy met een ’n vriend gehad het.

Mense het ook op Twitter uitgevaar en gevra hoe kan iemand se vriende toelaat dat hulle geklee net in ’n toppie en kortbroek ’n partytjie verlaat terwyl dit so snerpend koud buite is.

Bronne: Buzzfeed; Daily Mail