Sy het die beweging in die verpakking opgemerk en toe sy dit van nader bekyk, klein wurmpies in die salmfilet gesien.

Die getroude ma van drie sê sy het dit gevind twee uur nadat sy met die vis van die winkel teruggekeer het. Jennifer Chafitz sê sy wou aandete begin berei toe sy iets in die verpakking sien beweeg. Toe sy dit van naby bekyk, het sy wit wurms in die pienk vleis gesien.

“Ek was op die punt om die kos te begin maak toe ek die wurmpies in die verpakking sien. Jy kon die wurms sien in- en uitbeweeg,” sê sy in ’n video wat sy daarvan gemaak het. “Dit was onder die verpakking en daar was nog meer binne-in wat nie uitgekom het nie. Dis walglik. Ek was afgehaal en gewalg. Dit het gevoel asof dit op my kruip.”

Sy is dieselfde dag terug na die winkel waar sy die vis gekoop het en het die werknemers daaroor ingelig. ’n Winkelbestuurder het verskoning gevra, haar geld vir die vis terugbetaal en haar ’n geskenkkaart van $5 gegee wat Jennifer effens teleurgestel het.

“Ek het nie ’n bohaai daaroor opgeskop nie. Dit het nie vir my oor die geld gegaan nie, maar om die mense daarvan bewus te maak en om hulle sover te kry om iets op die rak te sit wat ons vir ons gesin kan voorsit,” het Jennifer aan ’n plaaslike televisiestasie gesê.

Volgens kenners kom parasitiese wurms natuurlik in vis voor en hou dit nie ’n gesondheidsgevaar in as die vis behoorlik gekook is nie, maar dit was ’n skrale troos vir Jennifer. “Ek sal waarskynlik nooit weer vis kan eet nie.”

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, FOX10PHEONIX.COM