Kerryn Fraser en haar man, Jarryd (toe nog haar kêrel), het sewe jaar gelede by Pennington aan die KwaZulu-Natalse suidkus gaan vakansie hou om hul tweejaar-herdenking te vier.

Hulle was die laaste aand die slagoffers van ’n gewapende rooftog en Kerryn (nou 27) is in haar rug geskiet.

Sy is van haar bors af ondertoe verlam. Kerryn en Jarryd (28) is in April vanjaar getroud. Hier volg haar verhaal:

“Ek en my kêrel (nou my man) was in September 2009 in Pennington, KwaZulu-Natal, met vakansie om ons tweejaar-herdenking te vier.

Ons het ’n week daar gebly en die aand voor ons sou vertrek, het ons besluit om die meeste van ons goed in die motor te pak sodat ons dit nie die volgende oggend hoef te doen nie, aangesien ons vroeg wou vertrek.

“Toe ons die deur oopmaak om na die motor te gaan, het vier seuns, wat gelyk het asof hulle tussen 13 en 17 jaar oud kon wees, uit ’n bos gespring en ons die woonstel in gepluk.

Die vier het die woonstel waarin ons die week gebly het, gestroop en alles geneem wat hulle wou hê – ook die skoene en belt wat Jarryd toe aangehad het.

“Hulle het met ons gepraat en ons gedreig, en dit het ons baie bang gemaak. Gedurende die rooftog het een van die ouens langs Jarryd gestaan en ’n mes teen sy nek gehou.

Lees ook: Stamselbehandeling bring hoop vir parapleeg twee jaar ná erge motorongeluk

Toe hulle gereed was om te gaan, het een van hulle na my toe gekom, my op die wang gesoen en gesê: ‘Dankie.’ Terwyl hy dit sê, het ’n ander ou agter my ’n rewolwer teen my rug gedruk en my geskiet.

“Toe ek die skoot hoor, het ek geweet ek is verlam. Ek het vir Jarryd geskree: “Hulle het my geskiet!”

Jarryd het onmiddellik opgestaan en die rowers het uit die woonstel gehardloop. Jarryd het toe uitgehardloop om hulp te soek.

“Ons het in ’n kompleks gebly, maar op daardie oomblik was dit taamlik leeg. Hy het ’n ouer egpaar raakgeloop en hulle het ons kom help en ’n ambulans gebel. Jarryd het sy foon opgetel om my pa te bel.

“Nadat ’n uur verbygegaan het en geen ambulans nog in sig was nie, het die ouer paar besluit om my self na die Netcare Kingsway-hospitaal in Durban te neem.

Die koeël het regdeur my ribbes gegaan. My ribbes het my longe deurboor en my longe het vol bloed begin raak. In daardie stadium kon ek nie asem kry nie.”

Sewe jaar is verby en Kerryn het geleer om te leef in die volste sin van die woord, selfs al kan sy nie beweeg van haar bors af ondertoe nie.

Jarryd, nou haar man, was deur dit alles die rots waarop sy gesteun het.

kerryn2

“Ek en Jarryd is liewer vir mekaar as ooit tevore,” sê sy.

“Hy het my nooit alleen gelaat nie, en hoewel hierdie ding baie uitdagings vir ons verhouding veroorsaak het, was hy sedert die begin eenvoudig ongelooflik. Hy laat my steeds heeltemal normaal en pragtig voel.

Lees ook: Seldsame kwaal laat vrou tydelik verlam elke keer as sy wakker word

“Ons is in April vanjaar getroud en dit was die beste dag in my lewe. Ons is in Pretoria getroud en bly nou hier.”

Kerryn se pa, Ray, sê sy het ’n sterk wil en het geweier om in ’n rolstoel in die kerkpaadjie te verskyn.

“Ek het onderneem om vir haar iets spesiaals te maak en het toe ’n prinses-koets gemaak vir haar feëverhaal-troue,” sê hy.

Kerryn, ’n verteenwoordiger by ’n kliëntedienssentrum, wou haar eerste dans so normaal moontlik hê; daarom het Ray ’n platform op wiele gemaak wat dit vir haar moontlik gemaak het om regop te staan en op die dansvloer rond te beweeg tydens haar eerste dans.

kerryn1

“Die danstoerusting is uit die rugstutte gemaak wat ek ná die voorval laat maak het om my te help staan.

Die stutte gaan onder jou voete deur tot aan die bopunt van jou dy. My pa het vir die rugstutte ’n houtraam gemaak en wiele aangebring. My kern is nogal sterk, as ek dus net aan iemand se hand of om sy nek kan vashou, kan ek regop staan. Jarryd het my oor die dansvloer getrek vir ons eerste dans as getroude paartjie.

“My pa het self die koets gebou en dit is die pragtigste ding. Dit het my op my troudag soos ’n regte prinses laat voel.

“Sedert die aanval het ons goed gedoen soos valduik, hokduik saam met witdoodshaaie, saam met dolfyne geswem, gesnorkel, glykabelpret gehad en baie meer. Vir ons is niks onmoontlik nie,” sê Kerryn.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kassier reageer ‘perfek’ op blinde outistiese tweeling se uitbarsting

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Vyf wenke: So behandel ’n mens gestremdes met respek en begrip