In Desember het Chantèllé, ’n jong ontvangsdame van Kimberley, se verloofde, Riaan, onverwags sy lewe geneem. In daardie stadium het hulle mekaar reeds agt jaar geken. Hulle het in Maart verlede jaar verloof geraak.

Riaan se selfdood het Chantèllé uiteraard diep geraak, en sy voel te min word gedoen om die stigma rondom depressie en selfdood te bespreek.

“Min mense wil daaroor praat omdat dit so taboe is,” sê sy. “Ek wil dit verander. Geestesiektes bestaan. Dit moet soos enige ander siekte gesien word sodat mense die regte hulp en behandeling daarvoor kan kry. Dikwels is daar geen gevaartekens nie.”

In die hoop dat dit ander kan help, het Chantèllé (23) besluit om die hartseer verhaal te deel van die dag waarop sy Riaan verloor het.

[caption id="attachment_136491" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. (pexels.com) Foto ter illustrasie. (pexels.com)[/caption]

Hier volg haar storie:

My liefste Riaan was net 22 toe hy sy eie lewe neem. Ek sal Woensdag 14 Desember 2016 nooit vergeet nie; my hele wêreld het daardie dag ineengestort. Ek het op hom afgekom waar hy in die buitekamer hang.

Ek en Riaan het mekaar agt jaar gelede in Kimberley ontmoet. Hy was ’n jaar jonger as ek. Die mooiste mens met die pragtigste persoonlikheid. Grapperig, snaakse sêgoed, aksente namaak . . . Dis hoe hy altyd was.

Ongelukkig het ons paaie geskei toe hy Bloemfontein toe moes trek, maar in Mei 2015 het hy teruggekeer Kimberley toe en in Februarie 2016 het ons besluit om ons verhouding nog ’n kans te gee. ’n Maand later was ons verloof.

In Junie het ons teruggetrek na sy ouerhuis in Bloemfontein sodat ons ons verhouding kon versterk en kon wegkom van slegte invloede in Kimberley. Alles was perfek; ons het bereik wat ons moes met mekaar en in ons verhouding.

Ons was op ons gelukkigste; al die pyn en hartseer van ons mislukte verhouding vroeër was in die verlede.

In Augustus het ons uitgevind ek is swanger. Riaan was so trots. Hy wou nog altyd ’n dogter hê. Alles het goed verloop – tot ons vir ’n tweede sonar gegaan het. Haar hart het net ophou klop.

Op 22 Oktober het ons Adrianelle verloor. Riaan kon dit nie verwerk nie. Hy het hom probeer sterk hou, maar was gebroke. Ons het nie regtig oor haar gepraat nie, en wanneer ons wel het, was hy bitter emosioneel.

Ek het hom beter as die meeste mense geken. Ek het geweet hy kon donker dae hê, maar ten spyte van die hartseer was hy ook vol lewe.

As ek nou terugdink, maak alles meer sin. Baie mense kon nie die seer in hom raaksien nie; hy het dit goed weggesteek. Selfdood was nie in sy visier nie; ons het daaroor gepraat en hy was gekant teen so iets.

Ek onthou ons laaste dag saam asof dit gister gebeur het. Ons was albei werk toe en die dag het heel normaal verloop – tot hy my kom haal het.

Riaan was baie beskermend teenoor my. Ek het toe pas begin werk by ’n plek waar ek baie mans as kollegas gehad het. Riaan het niks daarvan gehou nie.

Hy het ’n vieslike humeur gehad, maar sou my nooit fisiek seermaak nie.

Toe ek op daardie dag in Desember te lank neem om my dag se take af te handel, het Riaan die ergste vermoed. Sy gedagtes was donker en oorheersend.

Op pad huis toe het ons so baklei. Dit was die ergste rusie nog. En as ek nou terugdink, was dit so onnodig.

By die huis het ons verder baklei en baie lelike woorde vir mekaar gesê. Kort ná seweuur die aand het Riaan na die buitekamer gegaan. Ek het niks daarvan gedink nie. Wanneer ons baklei het, het hy dikwels op sy eie gaan sit en afkoel.

Daardie aand sou dit egter nie die geval wees nie.

Weens seinprobleme het ’n boodskap wat Riaan om halfagt vir my gestuur het eers omstreeks agtuur deurgekom.

Daarin het hy my gegroet. Dit was nie te vreemd nie; dit het ook al voorheen gebeur. Ek het opgestaan en hom gaan soek sodat ons dinge kan uitpraat.

Deur die venster van die buitekamer kon ek net sy rug sien. Ek was nog nooit in my lewe so bang soos toe ek hom probeer afkry van waar hy gehang het nie. Sy lyf was nog warm. Ek het myself moed en hoop ingepraat.

Die bure het my noodkrete gehoor en kom help, maar dit was te laat. Ek het besef hy is weg. Sy nek het gebreek; hy was op slag dood.

Hy was weg . . . vir altyd.

My mooiste, mooi Riaan kon sy onsigbare hartseer en pyn nie meer langer met hom saamdra nie. En ek blameer myself. Hoe kan ek nie? Ek was die laaste mens wat saam met hom was. Ons was altyd saam en het alles gedeel. Hoe kon ek nie geweet het nie?

As ek sy boodskap vroeër gekry het, kon hy dalk nog veilig hier by my gewees het. As ek vroeër na om gaan soek het, kon hy dalk nog veilig hier by my gewees het. Ek wonder oor soveel goed.

Ek het intussen aangesluit by groepe waar lede ook geliefdes aan selfdood afgestaan het. Baiekeer gebeur dit sonder enige tekens of waarskuwing. Dit is wanneer dit die seerste maak. Dat jy onbewus was van jou geliefde se innerlike oorlog met hulself en dat die dood hul enigste uitweg is.

Dit hoef nie te wees nie! Nie meer nie. Ek wil die stigma rondom selfdood afbreek en mense aanspoor om daaroor te praat. Hoeveel mense loop met hierdie seer, maar is te bang om iets te sê?

Wel, dit hou hier op! Genoeg is genoeg; die verandering begin nou. ’n Geestesteuring is nie net in iemand se kop nie; dit bestaan regtig. Hoeveel lewens kan gespaar word as dit soos enige ander siekte behandel word?

Ek sou nooit kon dink dat dit met my geliefde sou gebeur nie. Dis waarom dit belangrik is om vandag nog daaroor te begin praat, voor dit te laat is. Vra jou geliefdes meer uit, stel meer belang. Sien die tekens raak – as daar enige is. As daar nie is nie, steun hulle steeds.

Ek wens ek het meer gedoen en sal altyd spyt wees dat ek nie het nie. Dis nooit te laat voor dit te laat is nie.

depressie

Wie is vatbaar vir selfdood?

In lande met ’n hoër inkomste word selfdood gewoonlik met geestesversteurings, depressie en alkoholmisbruik verbind.

Dan is daar ook die impulsiewe optrede waar mense hulself om die lewe bring ná byvoorbeeld verbrokkelde verhoudings, chroniese siekte en finansiële probleme.

Ander faktore wat daartoe kan lei:

  1. Konflik
  2. Rampe
  3. Geweld
  4. Misbruik
  5. ’n Gevoel van isolasie
  6. Afknouery het so toegeneem, veral onder jong kinders, dat dit as een van die groot oorsake van selfdood onder kinders lei.

Kan dit verhoed word?

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se verslag oor selfdood kan dit verhoed word deur ’n paar voorsorgmaatreëls te tref:

  1. Verminder toegang tot dit wat ingespan word as iemand hul eie lewe wil neem (plaagdoders, vuurwapens, sekere medikasie)
  2. Verantwoordelike verslaggewing deur die media
  3. Hersiene alkoholbeleid om die skadelike gebruik daarvan te verlaag
  4. Vroeë identifikasie, behandeling en sorg van mense by wie geestelike en afhanklikheidsteurings gediagnoseer is
  5. Lei nie-gespesialiseerde gesondheidswerkers op om selfdoodgedrag te kan evalueer en bestuur
  6. Opvolg-sorg vir dié wat reeds hul eie lewe probeer neem het.

As jy steun nodig het, bel Sadag by 0800-33-33-77 of die tolvrye selfdoodhulplyn by 0800-12-13-14. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@anxiety.org.za.