Sy het amper alles verloor die dag toe haar motor ’n slaggat in Pretoria getref het – haar droom om ’n haarkapper te word, haar sorgelose lewe sonder pyn, byna die lewe self.

Maar Annemarie Jacobs (33) het haar veggees behou. Toe die dokter later haar erg vergruisde linkerbeen wou afsit, het sy baklei, en die been het gebly. Toe hulle vir haar sê sy sal nooit weer kan loop nie, het sy bly glo en veg totdat sy twee jaar later self in die paadjie kon afstap om met haar skoolliefde, Charles, te trou.

En nou het Annemarie nog ’n stryd gewen – ’n 12 jaar lange regstryd om die stadsraad van Pretoria te dwing om haar vir haar skade te vergoed.

Die Pretoriase hooggeregshof het pas beslis die Tshwane-metroraad moet die helfte van haar skade en mediese uitgawes betaal. Haar prokureurs is nou besig om die somme te maak, maar dit sal waarskynlik meer as R1 miljoen beloop.

“Ek is net so dankbaar dat alles nou amper verby is,” sê die vrou met die grysblou oë.

Haar mondhoek trek effens skeef as sy praat en sy sluk party van haar woorde in. Dis maar net een van die talle gevolge van daardie dag toe sy die slaggat getref het, wat sy steeds aan haar lyf dra. Daar is ook die lelike merke aan haar bene en die pyn wat maar altyd teenwoordig is.

Maar noudat sy gehoor het haar eis het geslaag, is daar darem ook die wete dat geregtigheid gaan geskied. Iemand gaan uiteindelik vir haar verliese boet.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010