'n Vrou het gereël dat dreinskoonmaakmiddel in haar oë gegooi word om haar kinderdroom om blind te wees, te verwesenlik.

Jewel Shuping, van Noord-Carolina, het reeds van kindsbeen fantaseer oor blindwees. Op sesjarige ouderdom het sy ure lank na die son gestaar in die hoop dat dit haar oë sou beskadig.

As tiener het Jewel begin om “blind” te swem en soms voorgegee dat sy blind was. Sy het selfs 'n dik, swart sonbril gedra. Op 18 het Jewel haar eerste wit kierie aangeskaf en op 20 kon sy braille vlot lees.

“Die idee het aanhoudend by my gespook . Toe ek 21 word, was dit 'n wekker wat aanhoudend gelui het,” het sy aan Barcroft vertel.

Toe sy 30 word, is sy met Liggaamlike Gelykheids-identiteitsverwarring (“BIID”) gediagnoseer, 'n sielkundige toestand waar gesonde mense glo dat hulle bestem is om op die een of ander wyse gestrem te wees.

Jewel het haar fantasie in 2006 na die volgende vlak geneem. Sy het 'n sielkundige opgespoor wat gewillig was om dreinskoonmaakmiddel in haar oë te gooi om haar wens te vervul.

Die ongeïdentifiseerde sielkundige het na bewering eers verdowende druppels in haar oë gegooi, gevolg deur twee druppels dreinskoonmaakmiddel. Jewel het dit as 'n uiters pynlike prosedure bestempel. Dit het ongeveer ses maande geneem voordat die skade ten volle gedoen is.

“My oë het gebrul van die pyn. Daar het van die dreinskoonmaakmiddel teen my wang afgeloop en dit het my vel gebrand. Al waaraan ek op daardie oomblik kon dink, was ‘ek word blind, dit gaan oukei wees.”

Haar een oog was so erg beskadig dat dit verwyder moes word. Die ander een kon bly, maar nou ly sy aan gloukoom en katarakte.

“As iemand sou sê dit is fundamenteel selfsugtig om myself blind te maak, sou ek sê dit is selfsugtig om behandeling te weier vir iemand met 'n afwyking. Dit is nie 'n keuse hierdie nie, dit is 'n behoefte, gegrond op 'n afwyking in die brein.”

Dit is nog nie bekend of die sielkundige vervolg sal word nie.

Bronne: dailymail.co.uk, elitedaily.com