’n Jong Spaanse vrou het in trane uitgebars toe sy haar pasgebore baba vir die eerste keer vashou en besef sy sal teenoor haar man moet bieg oor haar eskapades op haar henneparty.

Die baba is met dwergisme gebore en die vrou is toe gedwing om met die hele sak patats vorendag te kom en aan haar man te erken sy het hom met ’n dwerg verkul. Die dwerg was ’n ontkleedanser by haar henneparty.

Die vrou, van Valencia, Spanje, het aanvanklik haar man oortuig die kind is ’n wittebroodsbaba.

Maar toe die man dokters begin uitvra oor die kind se toestand en hoe dit moontlik is dat hul seun met dwergisme gebore is, het die vrou oor haar voorhuwelikse eskapades gebieg.

Die Spaanse webtuiste Las Cinco Del Dia berig: “Nie eens die vrou se naaste vriendinne of familie het geweet sy het seks gehad met ’n ontkleedanser nie.

“Maar die oomblik toe sy haar seun in haar arms vashou, het sy in trane uitgebars en gebieg oor wat gebeur het.

“Soos jy jou kan indink, wil niemand dit verkondig as hulle op hul henneparty met ’n ontkleedanser slaap nie. Jy neem dit eerder graf toe.

“Maar sy het geen ander keuse gehad nie; sy moes bieg, want sy kon nie die kind as haar man s’n voorhou nie omdat die kind met dwergisme gebore is.”

’n Dwerg-ontkleedanser in Spanje het aan die Daily Mail gesê: “Ek ken kollegas wat in Valencia werk, maar ek weet nie van iemand wat hierby betrokke is nie.

“Die manlike ontkleedansers wat ek ken is, meestal in hul 40’s en 50’s, en wie wil nou met ’n man van daardie ouderdom slaap? Daar moet omtrent 10 mans in Spanje wees wat hierdie soort werk doen.”

Dwerge wat as manlike ontkleedansers in Spanje werk, staan bekend as miniboys en is ’n redelik algemene vorm van vermaak by henne- en haanpartytjies, berig die Examiner.

- Danel Blaauw