Thenjiwe Ignatia Griffiths het glo haar alkoholisman misbruik en toe gereël dat hy in 2006 tydens ’n fopkaping naby Colenso vermoor word. Donderdag het sy die tronk as ’n vry mens verlaat nadat drie appèlregters haar skuldigbevinding omgekeer het. Haar prokureur, Narainsamy Naidoo, het gesê hy het al die nodige dokumentasie en is op pad was om sy kliënt uit die tronk te gaan kry. “Ek glo nie sy moet nog een enkele minuut agter tralies wees nie,” het hy gesê. Thenjiwe is Donderdagmiddag vrygelaat nadat sy in Mei 2015 suksesvol teen haar vonnis geappelleer het. In ’n onderhoud met News24 het sy kort voor haar vertrek na haar ma in Pietermaritzburg gesê: “Ek is meer as net gelukkig. Ek dink ek droom. Ek is so dankbaar vir my regspan . . . en vir God.”

Sy het reeds meer as twee jaar in die Westville-gevangenis deurgebring nadat sy in 2015 skuldig bevind is aan die moord op en roof van haar man, Allan Griffiths (60). Sy is lewenslange tronkstraf daarvoor opgelê.

Regter Rishi Seegobin het bevind sy het die sogenaamde kaping beplan en was ’n koelbloedige, berekende moordenaar wat haar man se geld opgebruik het. Hy het Thenjiwe ook 15 jaar gevangenisstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede. Thenjiwa en Allan het mekaar in 2005 op Richardsbaai ontmoet in ’n kroeg wat gewild was onder matrose. Sy was toe 25 jaar oud. In April 2005 is hulle getroud. Allan was volgens sy prokureur, Connie Marais, glo omtrent die josie in toe hy destyds uitvind Thenjiwe sal die helfte van sy boedel erf omdat hulle binne gemeenskap van goedere getroud was. Hy wou glo sy boedel aan sy drie kinders nalaat. Destyds het Allan beweer Thenjiwe was ’n prostituut en hy sou haar tot hul troue glo R1 300 per nag betaal om by hom te bly. Thenjiwe het beweer Allan het “lobola” van R20 000 vir haar betaal.

Kwalik ’n week ná hul troue het sy uit sy slaapkamer getrek. Sy het aan die hof gesê sy moes weens Allan se drankprobleem skuif; soms was hy glo onaangenaam.

Op sy beurt het hy glo aan Connie gesê Thenjiwe het hom so erg mishandel en aangerand dat hy ’n beskermingsbevel teen haar moes bekom.

Sy sou hom glo uit sy eie huis sluit en het sy arm glo op ’n keer so erg beseer dat hy dokter toe moes gaan. Thenjiwe het na bewering ook sy bank- en klererekening uitgeput, hom opgesluit en hom glo “ontvoer” om in Gauteng te gaan woon.

Die skuif na Gauteng was na bewering om hom weg te neem van sy familie en gewese vrou. Thenjiwe het gesê hulle het getrek omdat sy familie ingemeng het by hul sake.

In Januarie 2006 het die paartjie van Johannesburg na Richardsbaai gereis. Die staatsaanklaer, Dorian Paver, het aangevoer Thenjiwa het met twee mans gereël dat hulle maak of hulle duimgooi.

Nadat die egpaar die twee ’n saamrygeleentheid gebied het, is Allan luidens berigte naby Colenso aangeval en verwurg. Sy lyk is in die lang gras langs die pad gelos.

Thenjiwe het beweer een van die kapers het haar uit die voertuig laat klim en wou haar verkrag. Die twee kapers het haar glo langs die pad gelos en met haar man weggery. Sy het volgens haar getuienis reguit na Estcourt se polisiekantoor gegaan en die misdaad aangemeld.

Sy het skuld ontken op die klagte teen haar en volgehou sy was nie ’n prostituut nie. Volgens haar was sy en Allan baie lief vir mekaar en het hulle net twee nagte nie saam deurgebring nie.

Tydens haar appèl het die adjunk-regter-president van KwaZulu-Natal, Isaac Madondo, saam met regters Anton van Zyl en Esther Steyn gesê Seegobin het ’n fout begaan deur op hoorsê-getuienis staat te maak.

Die getuienis waarna verwys word, is dié van Allan se prokureur. Allan het hom glo twee keer geraadpleeg oor sy huwelik, die beweerde mishandeling en ’n moontlike egskeiding.

Allan se suster se getuienis is ook as hoorsê afgemaak. Sy het beweer sy het Allan gewaarsku hy maak ’n fout om met Tenjiwe te trou en gesê sy was by toe hy vir ’n beskermingsbevel aansoek gedoen het.

Madondo het gesê daar was geen getuienis dat Allen by sy volle positiewe was toe hy daardie bewerings gemaak het nie. Hy het ook gesê Allan was ’n alkoholis wat aan bipolêre steuring gely het. Volgens getuienis het Allan nie sy medikasie gebruik nie.

Geen ander getuienis kon dié getuienis staaf nie.

Die enigste ander getuienis teen Thenjiwe was die bewering dat sy die polisie na die plek geneem het waar Allan se lyk gevind is. Volgens die regter is hierdie getuienis ook nie behoorlik getoets nie.

Hy het gesê die hof bevind Thenjiwe het geen inkomste van haar eie gehad nie en dat sy net oor sy geld in Allan belanggestel het.

Volgens hom het die hof meegevoer geraak deur die hoorsê-getuienis dat sy ’n jong, wispelturige prostituut was wat vir geld en eiendom getrou het. As gevolg daarvan is die staat se bewyslas nie voldoende ondersoek nie.

Thenjiwe se getuienis was soms teenstrydig en daar is ruimte vir kritiek. Maar volgens die regter het die staat nie voldoende direkte getuienis aangebied om haar skuld te bewys nie.

Bronne: news24.com, iol.co.za, zululandobserver.co.za