Die 39-jarige pasiënt is tans in afsondering in dié hospitaal. Sy is op 5 Januarie opgeneem. Die siekte word veroorsaak deur ’n bosluisbyt (sien onder), maar kan ook na ander mense oorgedra word.

Sy is vermoedelik op ’n plaas deur ’n bosluis gebyt en is tans in ’n kritieke toestand.

Wat is Krim-Kongo-koors?

  • Krim-Kongo hemorragiese koorssiekte word so genoem omdat dit in 1944 in die Krim en 1956 in die Kongo opgespoor is. In 1969 is daar vasgestel dat dit eintlik dieselfde siekte is.
  • In Suid-Afrika word die siekte hoofsaaklik deur drie spesies bontpootbosluise veroorsaak.
  • Die siekte word oorgedra deur die byt van die bosluise, maar besmette bloed en weefsel van volstruise en vee kan dit ook oordra.
  • Bosluise kan vir lang periodes die siekte dra en kan selfs deur die eiers aan die volgende geslag bosluise oorgedra word.
  • ’n Besmette mens kan die siekte na ander mense oordra as hul bloed met ander mense se oop weefsel in aanraking kom.
  • Minder as 20 mense word jaarliks in Suid-Afrika met Krim-Kongo-koors besmet nie.
  • Die siekte kan dodelik wees. Tot ’n derde van pasiënte wat besmet word, sterf daaraan.

Wat is die simptome?

As jy deur ’n bosluis gebyt is, sal jy tussen een en nege dae later skielik baie siek word. Die simptome sluit in:

  • Niespesifieke simptome soos koors (gewoonlik vier to vyf dae lank), hoofpyn en spierpyn, veral in die lae rug en bobene
  • Seer, rooi oë
  • Naarheid, maagpyn en selfs diarree
  • Pasiënte kry dikwels ’n uitslag
  • Kneus en/of bloei maklik

Bronne: nicd.ac.za, Die Burger