Steve Nigrini (67) weet nie of sy eksvrou, Michelle Corneliussen (58), gaan leef nadat sy Donderdagoggend in Kemptonpark in ’n ernstige motorongeluk was nie.

[caption id="attachment_155042" align="alignnone" width="600"]Michelle Corneliussen was Donderdagoggend in 'n ernstige ongeluk. Foto's: Verskaf Michelle Corneliussen was Donderdagoggend in 'n ernstige ongeluk. Foto's: Verskaf[/caption]

Boonop het sy teen 14:00 Donderdagmiddag na bewering nog geen mediese hulp by die Tembisa-staatshospitaal aan die Oos-Rand ontvang nie, al het die ongeluk reeds omstreeks 07:00 Donderdagoggend plaasgevind.

“Ek weet nie of sy dit gaan maak nie. Ek is so kwaad ek kan slange vang,” het ’n ontstoke Steve oor die foon gesê. “Sy lê daar. Pasiënte word ná haar daar ingestoot en voor haar gehelp.”

Michelle, ’n klerk by ’n rekenmeestersfirma, was vanoggend op pad werk toe, vertel Steve, ’n boekhouer.

“Sy is ’n epilepsielyer en het ’n toeval gekry terwyl sy bestuur het.

“Sy het ’n lamppaal getref. Sy is uit die motor geslinger en het daaronder beland.”

Steve was nog by die huis toe hy ’n oproep van een van Michelle se kollegas kry om te sê daar was ’n ongeluk. Later het die nooddienste hom ook gebel en hy het hom na die Tembisa-hospitaal gehaas.

Teen vanmiddag het Steve en sy gesin steeds nie geweet wat die aard van haar beserings is nadat sy 09:00 vanoggend by die hospitaal aangekom het nie.

Volgens hom het sy op ’n hospitaalbed in een van die gange gelê.

Intussen het een van Steve se vriende, wat ’n ambulansdiens besit, aangebied om haar na ’n privaat hospitaal in Benoni te vervoer sodat sy die nodige hulp kan ontvang.

Michelle het nie ’n mediese fonds nie, maar Steve het die deposito betaal sodat sy die nodige sorg kan kry.

“Dit is belaglik! Sy lê daar en die verpleegsters het hul skouers opgehaal en sommer gesê daar is niks wat hulle kan doen nie,” beweer Steve.

“Ek hoop sy sal die nodige sorg kry en deurdruk as ons haar nou oorplaas.”

Huisgenoot het die hospitaal gebel vir kommentaar, maar niemand het die foon geantwoord nie. Intussen is daar ook per e-pos ’n versoek aan die hospitaal gerig.