Amalie Pelser (55) van Delmas in Mpumalanga was vyf jaar oud toe haar ma dood is. Die gesin het destyds in Grootfontein, Namibië, gewoon en ná haar ma se dood het sy by haar oupa en ouma in die Kaap gaan woon. Sy het nooit weer haar stiefpa of -sibbes gesien nie. Haar eie pa is lankal oorlede en haar ma is met haar stiefpa getroud toe sy nog ’n baba was. “Hy is die enigste pa wat ek ooit geken het.

[caption id="attachment_158540" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Pixabay Foto ter illustrasie.
Foto: Pixabay[/caption]

“Nadat ek uit die skool is, het ek vir my (stief)pa ’n brief geskryf. Daarna het ons ’n lang ruk oor en weer vir mekaar geskryf, maar toe het dit opgehou,” sê Amalie.

Die laaste brief wat haar stiefpa op 17 Oktober 1979 aan haar geskryf het, koester Amalie steeds. Sy beskryf dit as een van haar kosbaarste besittings. Haar pa is in Julie 1980 oorlede.

Onlangs het Amalie daarin geslaag om met die hulp van haar tannie, met wie sy al die jare in kontak was, een van haar niggies op te spoor wat in Pretoria woon. Haar niggie het vir haar ’n skakel na Amalie se broer se Facebook-rekening gestuur.

“Ek het vir hom ’n foto van ons pa aangestuur en hy het laat weet die foto is van sy pa,” sê Amalie. Haar broer het haar ook gebel. Een van haar broers is reeds oorlede, maar twee broers en haar suster leef nog.

Sy kan net haar sibbes se byname onthou, soos almal hulle destyds geken het. “Hulle woon almal nog in Namibië – dit is net ek wat hier woon,” sê Amalie. Sy hoop om binnekort by hulle te gaan kuier – “ek weet nog nie wanneer nie, maar hulle het my genooi en ons almal sien daarna uit om mekaar weer te sien.”

Sy was tegelykertyd hartseer en opgewonde toe sy haar sibbes opspoor. “Ek het gevoel soos ’n kind.

Ek was hartseer, want dit het die seer emosies van my ma se dood teruggebring, maar ook so opgewonde soos ’n kleintjie voor Kersfees aan die gedagte om hulle weer te sien.”