’n Oorgewig vrou is dood nadat haar bed meegegee en haar tot op ’n stoel daar naby “geskiet” het, is tydens ’n geregtelike doodsondersoek bevind.

The Mirror het berig Susan Ann Maben is verlede Vrydag ná die ongeluk by haar huis in Plymouth, Devon, in die Verenigde Koninkryk oorlede. Die hof het gehoor die 66-jarige Susan het probeer omdraai in haar bed toe die raam knak en haar op ’n bisarre wyse deur die kamer slinger. Susan was hoofsaaklik aan haar bed gekluister nadat medikasie vir asma, emfiseem en diabetes veroorsaak het dat sy gewig aansit.

“Die bed het meegegee en haar tot op ’n stoel daar naby gewerp. Sy is na die Derriford-hospitaal geneem, maar sy het ongelukkig gesterf,” het Graham Harding, die lykskouer, tydens die doodsondersoek in Plymouth getuig.

Die amptelike oorsaak van die dood is aangedui as respiratoriese versaking, chroniese obstruktiewe longsiekte, ’n heupfraktuur, erge vetsug, chroniese niersiekte en tipe 2-diabetes.

Ian Arrow, ’n lykskouer van Plymouth en South Devon, het bygevoeg: “Die bed was nie sterk genoeg vir haar nie. Sy is dood omdat haar bed meegegee het. Ek hoop dit sal die aandag vestig op die feit dat dit belangrik is om die regte bed te hê.”

Bronne: The Mirror, The Sun, News.com.au