Pretoria – ’n Vyf-en-twintigjarige vrou van Springs is Donderdag agt jaar tronkstraf opgelê omdat sy weens nalatigheid haar tweejarige stiefdogter se dood veroorsaak het deur haar te skud en klap.

Linda Hope het in ’n pleitverduideliking gesê sy het nooit bedoel om haar stiefdogter, Christabelle Labuschagne, dood te maak nie, maar besef sy het roekeloos en sonder die nodige sorg opgetree, en so die kleuter se dood veroorsaak.

Die klein, blonde meisie was in ’n koma toe sy op 31 Maart verlede jaar in die N17-hospitaal in Springs opgeneem is. Daar moes sy ’n noodoperasie ondergaan om bloeding op haar brein te dreineer.

Christabelle is vier dae later breindood verklaar en is twee dae daarna dood weens die ernstige kop- en breinbeserings wat sy in die aanranding opgedoen het.

Linda het skuldig gepleit op ’n aanklag van strafbare manslag al is sy van kindermishandeling en moord aangekla.

Sy het kalm gelyk en nie veel emosie getoon nie, in teenstelling met ’n vorige hofverskyning waartydens sy in trane uitgebars het toe sy gevra is hoekom sy nie vir haar verhoor opgedaag het nie.

Christabelle se biologiese ma, Madelein Labuschagne, het aan die hof gesê sy is tevrede met die pleitooreenkoms en vonnis, maar het deur die meeste van die verrigtinge gehuil.

Regter Mahomed Ismail het Linda ingevolge die ooreenkoms tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Sy is ongeskik verklaar om met kinders te werk en haar naam sal in die register vir kinderbeskerming opgeteken word.

Bron: News24