’n Jong vrou se jaloerse kêrel het haar vermoor nadat sy geweier het om haar Facebook-wagwoord vir hom te gee, word in die hof beweer.

Paula Newman (20) se kêrel, Kane Boyce, het ’n woedeaanval gekry, want hy het geglo sy verkul hom. Hy het haar toe geslaan en op haar op getrap. Sy het later aan haar beserings beswyk, berig die Britse koerant Mirror.

Die saak dien nou voor die Old Bailey-hof in Londen, waar gehoor is die voorval het in November 2013 gebeur toe Paula en Kane in die middel van die nag ’n ent gaan ry.

Inwoners het wakker geskrik van die geluid van skreeuende bande en ’n man en vrou wat stry, berig die koerant.

Een van hulle het ’n man se stem drie of vier keer hoor skree: “Meld aan!” en toe die antwoord: “Nee, nee, nee!” gevolg deur die man se stem wat sê: “Ons sal sien wat gebeur as jy nie aanmeld nie.”

Die jurie het ook skokkende besonderhede gehoor van hoe Kane ná die beweerde aanval ’n kwaai gekneusde, “slap en deurmekaar” Paula na die huis teruggevat het wat hulle met huismaats gedeel het.

Vriende beweer Paula was voor haar dood van plan om die verhouding te beëindig, want Kane was uiters baasspelerig, afknouerig en besitlik.

Kane ontken skuld op die aanklag van moord, maar erken skuld op die aanklag van manslag.

Bronne: The Mirror, News.com.au