So sê Marcelle Smit (22), nadat sy ma, Elzaan, onlangs gesterf het meer as ’n jaar nadat sy by ’n kuierplek op Bela-Bela in Limpopo aangerand is.

Elzaan (42) was die afgelope 15 maande in die hospitaal, maar is dood nadat haar organe ingegee het. Sy is aanvanklik in ’n hospitaal op Bela-Bela opgeneem, maar is kort daarna na ’n hospitaal in Polokwane oorgeplaas omdat die hospitaal op haar tuisdorp niks meer vir haar kon doen nie.

Elzaan, wat voor die aanval ’n haarkapper op Bela-Bela was, is destyds met ’n betonblok aangerand; so erg dat haar gesig vergruis is. Sy het luidens ’n destydse mediaberig huis toe gestap omdat sy naby die kuierplek gewoon het. Sy is glo deur ’n man oorval wat haar met ’n betonblok geslaan het. Haar gesig en oogbanke is vergruis, neus en kakebeen gebreek en sy het snywonde aan haar kop gehad.

Sy is die oggend ná die voorval in ’n sloot langs ’n treinspoor aangetref.

’n Man wat later weens die aanval in hegtenis geneem is, dien tans ’n vonnis van 15 jaar uit, onder meer weens poging tot moord.

Nadat Elzaan in die hospitaal opgeneem is, is Guillain-Barré-sindroom by haar gediagnoseer. Dit is ’n seldsame maar ernstige outo-immuunsiekte waarin die immuunstelsel die gesonde selle van die periferale senuweestelsel aanval. Dit lyn eindelik tot swakheid, gevoelloosheid, jeukerigheid en verlamming.

Marcelle sê sy ma se geheue het begin herstel en hoewel sy steeds in die hoësorgeenheid behandel is, het sy beter begin lyk. “Dit het gelyk asof sy begin regkom al was sy baie maer.”

Marcelle sê hulle het nie gedink sy ma sou sterf nie. Hy sê hy en sy ma was baie goeie vriende.

“Ons was vas oortuig my ma sou regkom. Ek was baie lief vir my ma; sy het my en my broer alleen grootgemaak en sy was altyd baie selfstandig.”