’n Trompopbotsing tussen ’n vragmotor en ’n ligte voertuig sowat 30 km van Harrismith in die rigting van Warden, het die lewe van ’n vrou geëis. Drie mense het beserings opgedoen.

Die wrakstukke was wydverspreid op die toneel. Die verwronge wrak van die ligte voertuig maak dit bykans onmoontlik om dit onmiddellik te identifiseer.

Volgens Chris Botha van Netcare 911 stem die ongelukstoneel ooreen met die van ’n botsing wat teen hoë spoed plaasgevind het.

Die vrou is op slag dood. Die drie insittendes van die vragmotor het beserings opgedoen - een kritiek, een ernstig en een met geringe beserings.