’n Vrou word daarvan beskuldig dat sy haar pasgebore baba in ’n plastieksak gesit en in haar lessenaarlaai gelos het nadat sy by die werk die lewe geskenk het.

Kimberley Pappas van die Amerikaanse deelstaat Michigan het vir ’n vervoermaatskappy gewerk waar sy na bewering in die toilet aan haar kind die lewe geskenk het. Haar kollegas het die polisie gebel nadat hulle op ’n klomp bloed in die badkamer afgekom het. Toe die owerhede op die toneel aankom, het hulle eindelik die baba gevind.

Volgens die Detroit Free Press het Kimberley vir die polisie gesê sy het ná die geboorte die naelstring met ’n naelskêr geknip, die baba in ’n sak gesit en met hom na haar lessenaar teruggekeer.

Sy het vir die ondersoekers gesê dit was ’n miskraam, maar die bevinding van die nadoodse ondersoek is dit was moord deur versmoring.

Die voorval het op 31 Maart plaasgevind en Kimberley het die naweek deur videoverbinding op die aanklagte voor die hof verskyn. Kimberley het tydens die verhoor ’n paar woorde gesê en daar is namens haar onskuldig gepleit. Die regter het gelas dat sy in aanhouding moet bly sonder ’n ooreenkoms met die owerhede hangende ’n sielkundige ondersoek. Kimberley kon die swangerskap na bewering vir haar kollegas en ouers, by wie sy tuisgaan, geheim hou. Dit is nog nie duidelik wie die pa van die kind is nie.

Bronne: Detroit Free Press, The Independent, Daily Mirror