Dit het met die 31-jarige Angel Mott gebeur toe sy op “Swart Vrydag” (24 November) gaan inkopies doen. Angel wou net gou by die winkelsentrum in Mills Fleet Farm, Ankeney, Des Moines, vir haar twee Duitse herdershonde slaapmandjies gaan koop.

Terwyl ander geesdriftige kopers mekaar vertrap het om by afgemerkte toebehore en klere uit te kom, het haar foon gelui.

“Angle, my skat,” het die verpleegster aan die ander kant gesê, “jou ma is nounet oorlede”. Rose Danylchuck was maar 57 jaar oud.

“Dit het swart geword voor my,” onthou Angel. “Ek het daar in die winkel onbedaarlik begin huil. Ek het op die rak gaan sit en omtrent vyf minute lank gesnik.”

’n Vrou het by haar kom stilstaan en gevra wat fout is. Ander het weggekyk en verbygestorm na die volgende winskopie.

Hierdie vrou, wat Angel as ’n “mense-engel met pers strepe in haar hare” beskryf, het Angel vasgehou en saam met haar gehuil. Toe Angel kalmer was en weer orent kon kom, het die vrou saam met haar na die kasregisters gestap en mense gevra om haar voor hulle plek te gee. Almal het weggestaan.

In ’n dwaal het Angel na haar motor toe gestap en vergeet om die vrou se naam te vra. Sy het 20 minute in die motor gesit voor sy kon ry na die verpleegsentrum waar haar ma weens komplikasies ná ’n beroerte dood is.

Dit wil voorkom of Angel baie engele om haar het. Net ’n paar dae tevore het sy op haar Facebook-blad geskryf sy het by ’n winkelsentrum in Windsor Heights, Iowa, haar beursie met ’n paar honderd dollar daarin in ’n trollie vergeet. Sy het teruggejaag en ontdek iemand het dit ingehandig. “Ek was nog nooit so dankbaar om in Iowa te woon nie,” het sy geskryf.”

In die dae ná haar ma se dood het daardie onderskraging van die vreemdeling Angel steeds deurgedra en sy was vasbeslote om haar op te spoor. Sy het besluit om met behulp van die 63 000 lede van die openbare Facebook-groep I grew up in Iowa! haar te vind. Sy het die storie vertel:

“Hoping you nice people can help me find a lady. I was out shopping on Black Friday at six in the morning at Mills Fleet Farm in Ankeny. In the middle of shopping I got a phone call that my mom had passed away. I sat down on the shelf in the aisle and must've bawled for several minutes. Some nice lady with black hair (I think) and purple highlights, sat down with me and hugged me for about five minutes. She cried with me. I would just like to thank her very much. Not one person stopped to see if I was OK. But her and her sister did and I appreciate that more than they'll ever know! My mom was my best friend. I felt like my heart was ripped out of my chest. She was only 57. I'm only 31, I still need my momma!”

Sara Ross het haar suster in die beskrywing op Facebook herken en laat weet: “Die vrou na wie jy soek, is my lieflike suster, Stephanie Uhlenberg,” het sy op Facebook geskryf.

Sy is 42 en het baie gevly gevoel dat Angel haar as iemand in haar 30’s beskou het.

Die volgende dag het die twee mekaar weer gesien en weer om die hals geval. “My hart het vir jou gebreek,” het Stephanie verduidelik. “Ek wou net weet jy is oukei.”

Bronne: freep.com, facebook.com/humankindvideos, msn.com, desmoinesregister.com