Volgens ’n berig is ’n 32-jarige Zambiese vrou in hegtenis geneem nadat sy na bewering haar man met ’n hoëhakskoen vermoor het.

Lusaka Times berig Oliva Kalangwe (34) is dood ’n week nadat sy vrou, wie se naam nie bekend gemaak is nie, hom met die hakskoen toegetakel het.

Die polisie het die voorval bevestig en gesê Oliva het diep wonde aan sy kop en voorkop opgedoen.

Oliva se vrou het hom op 26 Februarie aangerand. Hy het die saak by die polisie aangemeld, waar hulle hom ’n mediese vorm gegee het om in te vul, maar hy het dit nooit teruggebring nie.

Op 1 Maart het sy toestand weens sy beserings verswak. Hy is in ’n hospitaal op Kapiri Mposhi opgeneem, waar hy op 9 Maart dood is.

In ’n ander voorval in November verlede jaar het ’n vrou wat net as Mev. Milumbe geïdentifiseer is glo haar man met ’n stomp voorwerp geslaan voor sy hom met ’n motor omgery het. Die egpaar was glo in ’n stryd om toesig oor hul twee kinders gewikkel nadat hulle uitmekaar is.

Bron: News24