Hoeveel van haar aanvaller se pinkie het oorgebly? “Dis morsaf,” antwoord Eva. En dan voeg sy by: “Ek het nie gedink ek kon sy vinger afbyt nie…”

Eva was op 8 Oktober omstreeks vieruur die oggend van ’n taverne op pad na haar huis in Delportshoop in die Noord-Kaap toe ’n onbekende man haar naby die begraafplaas om die nek gegryp het. “Hy het twee van sy vingers in my mond gedruk en my tong probeer gryp,” vertel sy aan Huisgenoot.

Toe hy haar oë met sy ander hand probeer toedruk, het sy haar kake op mekaar geklem – en gebyt.

Eers toe die man laat spaander het Eva besef iets het in haar mond agtergebly. “Sy vinger was in my mond. Ek het dit uitgespoeg en begin gil.”

[caption id="attachment_150889" align="aligncenter" width="550"]'n Polisieskets van die vermeende aanvaller. Foto: Verskaf 'n Polisieskets van die vermeende aanvaller. Foto: Verskaf[/caption]

Mense van die omgewing het toe na haar redding gekom en die polisie gebel. Hulle het Eva na die hospitaal in Barkley-Wes geneem, waar sy vir ’n mondbesering behandel is.

Konst. Ernest Raadt van die Noord-Kaapse polisie het bevestig Eva het haar aanvaller se pinkie afgebyt, maar bygevoeg die polisie kon nie die pinkie se vingerafdruk vasstel nie omdat die vinger beskadig is toe Eva dit gebyt het.

“’n Informant het my verlede maand (November) gebel en gesê hy het ’n man met ’n verband om sy vinger in Barkely-Wes gesien en dat dit moontlik die verdagte is,” sê Raadt. Die verdagte kon egter nie vasgetrek word nie.

Die Noord-Kaapse polisie het intussen ’n identikit-skets gegrond op Eva se beskrywing van haar aanvaller saamgestel en uitgereik.

Raadt vra dat hy gekontak word by tel. 053 561 2000 indien enigiemand die verdagte sien of herken.