Kleine-Levin-sindroom, ook bekend as Slapende Skoonheid-sindroom, is twee jaar gelede by die 37-jarige Kanadees van Nova Scotia gediagnoseer. Van die 8 760 ure in ’n jaar gebruik Heather 8 030 om ’n uiltjie te knip. Op ’n goeie dag kan sy wegkom met net 12 ure se slaap, met ’n middagslapie van 2 tot 4 ure, maar ongelukkig is haar goeie dae minder as haar slegte dae. Wanneer die siekte op sy felste is, het sy 22 uur nodig om te rus.

Chroniese moegheid is vyf jaar gelede by Heather gediagnoseer en meer onlangs Kleine-Levin-sindroom. Haar stryd oor sewe jaar was nie maklik nie, sê sy. “Dit maak beslis ’n impak op my lewe,” vertel Heather in een van die min bewuste ure in haar dag. “Ek voel soos ’n spook in my eie lewe.

“Voor ek siek was, was ek ’n bewaringsbioloog by Parks Kanada. Ek het my eie huis en eie kar besit en was ’n gegradueerde. Ek het ’n aktiewe en geestelik en fisiek innemende lewe gelei,” vertel sy. Sy het intussen haar werk weens haar siekte verloor.

Wanneer iemand siek is, raai dokters hul pasiënte aan om gesond en aktief te raak, maar dis alles dinge wat Heather reeds gedoen het, vertel sy.

Toe kry sy sewe jaar gelede ’n verkoue. Dit het in ’n virussiekte ontaard wat haar drie maande aan die bed gekluister gehou het. Toe sy selfs ná haar herstel steeds moegheid ervaar, het sy besef iets is fout.

Sy kon weens die moegheid skaars uit haar bed klim, vertel sy. “Ek was op ’n punt so moeg, dit het fisiek seer geraak.”

In 2014 het sy ’n noodnieroperasie ondergaan en die herstelproses het haar net so uitgeput en haar moegheid versleg. Daarna het haar slaappatroon drasties verander toe sy tussen 18 en 22 ure aaneen kon slaap. “Al het ek my slaap ook hóé probeer reguleer, ek kon net nie wakker bly nie,” vertel sy.

Lees ook: Kyk net watter wonderlike voordeel hou meer slaap in!

Nadat sy by ’n neuroloog gaan aanklop het, het dié haar siekte bevestig. En terwyl die meeste mense met Kleine-Levin sindroom deur fases gaan waar hulle vir dae of weke die meeste van die dag moet slaap, is Heather se geval anders. Haar kombinasie van Kleine-Levin-sindroom én chroniese moegheid beteken sy het baie meer slaap op een slag nodig.

Boonop ly sy aan neurologiese probleme soos geheueverlies en spierpyn wat haar produktiwiteit verlaag in die tyd dat sy wel wakker is.

As mense haar sien, lyk sy vir hulle heeltemal gesond, meen sy. “Mense sê goed soos: ‘Oe, dis baie slaap. Jy is seker goed uitgerus.’ Maar die slaap is nie diep nie, so al slaap jy heeltyd, voel dit soos 10 minute se slaap wanneer jy wakker word.

Lees ook: Waarom is agt ure se slaap so belangrik vir jou?

Daar is medikasie wat vir haar moegheid kan help, maar sedert sy haar werk verloor het, kan sy dit nie bekostig nie.

“Almal weet hoe dit voel om griep te hê – alles is te helder en te hard, dinge beweeg te vinnig en om trappe te klim verg al jou energie,” sê sy. “Dit is hoe dit meestal is wanneer ek wakker is, maar ek moes mettertyd leer hoe om die simptome te beheer en daarmee saam te leef.”

Bronne: dailymail.co.uk, express.co.uk, mirror.co.uk