“Dit is nie ’n maklike pad nie, maar ons sal nie moed of geloof verloor nie.”

So skryf Veranda Wentzel, wie se man in ’n helikopterongeluk dood en 14-jarige seun in dieselfde ongeluk ernstig beseer is.

[caption id="attachment_174187" align="aligncenter" width="356"]Veranda en wyle die boer Douw Wentzel Veranda Wentzel moet nou die skielike verlies van haar man, Douw, verwerk. Foto: Facebook[/caption]

Veranda het Sondag ’n hartroerende inskrywing op Facebook gemaak ná die ongeluk Vrydag naby Heilbron in die Vrystaat.

Douw Wentzel (47), ’n megaboer van die dorpie Cornelia, sy seun, ook Douw, vriend Louw Deale en dié se seun, André (14) was op pad van die Nampo-oesdag in Bothaville toe die helikopter op ’n plaas buite Heilbron neerstort.

Douw sr. en André, ’n leerder aan die Hoërskool Vrede, is op die toneel dood verklaar. Louw en klein Douw is albei ernstig beseer en na die Netcare Union-hospitaal in Alberton, Gauteng, geneem.

Ná die ongeluk het Veranda op haar Facebook-blad geskryf met dié ongeluk het “my en die kinders se lewe vir ewig verander”.

Sy skryf sy was ná die ongeluk in skok en moes ter wille van oorlewing kophou.

Op Facebook het Veranda geskryf sy waak dag en nag by klein Douw, of Douwtjie soos sy hom noem, in die waakeenheid. Louw word ook in dié eenheid behandel.

[caption id="attachment_174186" align="aligncenter" width="461"]Pa en seun Douw en sy seun, Douwtjie, het ’n sterk band gehad.  Foto: Facebook[/caption]

“My liefling, eggenoot, vriend en anker rus vandag saggies by Jesus,” skryf Veranda.

“Dit is vir my sleg en seer om te sê Louw en Mia Deale se seun André is ook saam met Douw veilig by Jesus.

“Ons hart is seer. Ons vra asseblief gebede sonder ophou.

“Ek salueer jou, Douw my man. Jy was die beste man vir my en beste pa vir ons kinders. Ek het jou elke dag liefgehad met my hele hart. Ek gaan jou elke dag mis. Rus sag, my lief, by Jesus. Vir altyd lief.”

Gister het Veranda geskryf klein Douw het sy eerste operasie ondergaan en die dokters is baie tevrede met sy toestand. Hy is steeds in die waakeenheid. Sy toestand is stabiel.

“Ons is lief vir jou, Douwtjie. Staan asb. spoedig op. Ons weet jy gaan.”