Lizzie Doxsey (39), van Swansea, Wallis, ly aan tokofobie, ’n intense vrees vir swanger raak en die lewe skenk.

Sy het onlangs aan Britse media vertel hoe dié verlammende vrees haar al derhonderde ponde vir swangerskapstoetse uit die sak gejaag het en dit vir haar bykans onmoontlik maak om byvoorbeeld na sonarbeelde van vriende se ongebore babas te kyk.

Deur eersgenoemde probeer sy op ’n manier gemoedsrus bewerkstellig. Sy hou ’n klomp van dié toetsstelle tuis byderhand vir wanneer die angs haar beetpak.

“Ek’s oukei met ouer babas en kleuters naby my. Dis net pasgeborenes – hulle is so broos . . . Ek’s nie seker wat presies omtrent swangerskap my bang maak nie. Dalk is dit die verlies aan beheer . . . dis amper asof iets jou liggaam oorneem,” het sy vertel.

“Mense begryp nie tokofobie nie. Hulle dink dit is vreemd of neem aanstoot.”

Sy het al as kind ongemaklik begin voel met swanger vroue in die omtrek, en haar vrees het oor die jare toegeneem.

Sy het haar probleem vergelyk met hoe dit vir iemand met aragnefobie (’n morbiede vrees vir agtpotiges) moet voel om vasgekeer te wees in ’n kamer met ’n spinnekop daarin.

Lizzie het trouens een vriendin doelbewus deur haar hele nege maande lange swangerskap vermy. Namate al meer lede van haar vriendekring met gesinne begin het, het dit ingewikkelder geraak om nie aan swangerskap blootgestel te word nie.

Vir haar was dit skoon traumatiserend toe haar Facebook-voer van sonarbeelde begin wemel. “Ek het nooit geweet wanneer ek hulle gaan sien nie. Skrikwekkend . . .”

So het sy noodgedwonge mense begin unfriend vir die duur van hul swangerskap.

Lizzie het jare lank nie eens besef daar’s ’n woord vir haar toestand nie – ’n vriendin het dit toevallig raak ge-google. Nou is sy lid van ’n aanlyn steungroep vir tokofobie-lyers. Sy hoop meer mense sal begin verstaan daar’s nie altyd ’n rasionele verklaring vir wat sekere mense die horries gee nie. “Dink aan hoe fobielyers voel oor ’n konfrontasie met ’n spinnekop of slang. Dis soos ons oor swangerskap voel . . . en dié toestand is nie minder vreesaanjaend net omdat dit raar is nie.”

Volgens Amerika se National Institutes of Health is tokofobie “ ’n patologiese vrees vir swangerskap” wat daartoe kan lei dat vroue die proses van geboorte skenk heeltemal wil vermy. Die NHI onderskei tussen primêre en sekondêre tokofobie.

Eersgenoemde is ’n morbiede vrees vir geboorte skenk by vroue wat geen vorige swangerskap-ondervinding het nie, en laasgenoemde kan ontwikkel ná ’n traumatiese ervaring tydens ’n vorige swangerskap. Dit kan deur verskeie terapieë verlig word en verloskundiges, vroedvroue en geestesgesondheidspesialiste kan onder andere help.

Bronne: her.ie, mirror.co.uk, ncbi.nlm.nih.gov, independent.co.uk, fearfreechildbirth.com