Daar's ’n geykte grappie wat lui: "Kom vrou, ons gaan slaap. Die gaste wil huistoe gaan."

Almal ken daardie lam gaste: die mense wat net nie weet wanneer die tyd reg is om hul eie koers in te slaan nie. Al vra jy hulle ook hoe mooi. Selfs al raak jy of jou gade dalk later onbeskof met die spulletjie. Maar sit sal hulle sit.

Wel, in Panama City in die Amerikaanse deelstaat Florida is daar minstens twee mense wat dalk nie weer gaan huiwer om gehoor te gee as die gasvrou hulle vra om die pad te vat nie.

Alana Annette Savell (32) het twee gaste wat onlangs by haar gekuier het eers mooi gevra om te gaan. Maar daar het dadels van gekom. Toe sy hulle die derde keer moet vra om te gaan, het haar humeur die oorhand gekry.

Dit was ’n billike versoek, want die besoekers het eers Maandagoggend 01:00 by hul huis aangekom vir ’n drankie. Skynbaar het die twee té rumoerig begin raak na Alana se sin en sy het besluit dis tyd dat die onbeplande partytjie end kry.

Haar kêrel, net bekend as Ben, het haar aangespoor om die .22-vuurwapen te gaan haal nadat die gaste al haar versoeke ignoreer het. Sy voorstel sou wees dat sy na die grond moet mik wanneer sy ’n waarskuwingskoot afvuur. "En as dit nie werk nie, moet sy hulle in die been skiet," het hy glo gesê. So gesê, so gedaan. Alana het skote begin afgevuur. Gou is die meisie twee keer in haar been gewond. Ook Alana se kêrel is in die harwar in sy been geskiet. Nou word Alana van aanranding met verswarende omstandighede met ’n vuurwapen aangekla. Sy het gou besef sy's kniediep in die moeilikheid en het eers die vuurwapen in die asblik weggesteek met die hoop dat iemand anders dit sal vind en vat. Maar sy is in hegtenis geneem sowat twee uur na die voorval.

Het jy (veilige) raad hoe om van gaste ontslae te raak wat té lank kuier? Vertel vir ons deur 'n e-pos na web@huisgenoot.com te stuur.

Bronne: dailymail.co.uk, washingtonpost.com, wtsp.com