Maar op Woensdag 29 Junie het sy tog wel die lewe geskenk – aan ’n gesonde dogtertjie wat gebore is van ’n embrio wat 18 jaar gelede gevries is.

Die vrou het aan die begin van verlede jaar weer mediese raad ingewin. Die verblydende diagnose was dat daar wel iets aan haar tot nou toe onvermoë om swanger te raak, gedoen kon word.

Na afloop van ’n operasie is die 18-jaar oue embrio in November ingeplant. Dit was suksesvol.

Volgens die Sjanghai-gesondheidsdepartement word bevrore embrio’s in vloeibare stikstof teen -196 °C geberg. Voorts word bevrore embrio’s gewoonlik nie langer as vyf jaar gehou nie.

“Maar in werklikheid sal ons embrio’s berg vir so lank as wat die pasiënt ons versoek om dit te doen,” het Sun Yijuan van die Fudan-universiteit se departement van verloskunde en ginekologie gesê.

Hoewel ’n 18-jaar oue bevrore embrio wat tot die geboorte van ’n gesonde baba gelei het, skaars is, is dit nie die eerste keer dat dit gebeur nie.

In 2010 het medici verbonde aan die Jones Institute for Reproductive Medicine in Virginië, Amerika, geskiedenis gemaak toe hulle ’n 20-jaar oue embrio in ’n 42-jarige vrou ingeplant het. Die resultaat – ’n gesonde seuntjie met minstens een 20-jarige boetie of sussie uit ’n moontlike 20 elders in die wêreld, aangesien 21 eiers op dieselfde tyd bevrug is.

Die vorige rekord vir die oudste, of dan moontlik ook die koudste, embrio, was 13 jaar.

Bevrore embrio’s word vir sowat ’n uur ontdooi. Sodra dit kamertemperatuur bereik, word dit in ’n broeikas met ’n temperatuur van 37 °C geplaas voor dit ingeplant word. Maar daar word gemaan dat die kans op swangerskapsukses aansienlik minder is as wanneer daar ’n vars embrio ingeplant word.

Bronne: herald.co.zw, sputniknews.com, chinadaily.com, catchnews.com, fertstert.org, singularityhub.com, hfea.gov.uk, slate.com