Weens servikale kanker kan Julie Bradford (45) se dogter, Jessica Jenkins (21), nie kinders hê nie. Jessica was 18 toe sy hoor sy het kanker en was een van die jongste Britse vroue by wie dié soort kanker nog gediagnoseer is. Sy het van haar eierselle laat vries voor sy vir kanker behandel is. Danksy dié stap het baba Jack drie jaar later (op 2 Desember vanjaar) sy opwagting gemaak. Die kanker is sedert Oktober 2014 in remissie.

“My ma is die dapperste, ongelooflikste vrou in die wêreld. Van ’n jong ouderdom wou ek ’n ma wees en nou het ons droom waar geword. Jack is in elke opsig perfek,” het Jessica gesê.

Jessica en haar man, Rees, is oorstelp dat haar ma ingestaan het as surrogaat. Julie, ’n haarkapper, sê enige ma sou dit vir haar kind gedoen het. “Daar was van die begin af nooit twyfel daaroor nie. Hy is ons Kersfees-wonderwerk.”

Rees erken hy het aanvanklik bedenkinge gehad. “Dit was vir my vreemd dat my skoonma my seun dra. Ek het my afstand gehou, maar toe sy begin wys, het ek gedink ek kan nie my afstand hiervan hou nie. Dit is die ongelooflikste ding wat een mens vir ’n ander kan doen.”

In 2013 is Jessica, van Rhymney in Gwent in Suid-Wallis, hospitaal toe. Aanvanklik het dokters gesê sy is te jonk vir kanker en is sy meegedeel sy het ’n seksueel oordraagbare siekte. Maar met nog toetse is bepaal sy het wel kanker. “Dit het twee weke geneem om vas te stel hoe gevorderd die kanker was.” ’n Skandering het bevestig dit het haar limfkliere bereik. “Hulle het gesê ek sou nooit kinders kon hê nie.”

Dokters het haar egter die kans gegun om haar eierselle te laat vries. En haar ma het aangebied om op te tree as surrogaat.

In Mei vanjaar is een van selle ontvries en in Julie se baarmoeder geplant. Net 10 van die 21 geoesde eierselle het oorleef. “My ma was die oondjie waarin ons Jelly Bean gegroei het,” het Jessica gesê.

Sy het haar ma as haar heldin beskryf. “Sy het my gewys wat ware liefde beteken. Ek kan haar nooit vergoed vir wat sy vir ons gedoen het en die opofferinge wat sy gemaak het nie.”

Jessica hoop om ’n volgende keer haar eie kind te dra - met behulp van ’n baarmoeder-oorplanting. Haar ma het aangedui indien nodig sou sy haar baarmoeder aan haar dogter skenk. “Ek sal nie twee keer dink nie,” sê sy. “Dit is duidelik in ’n werkende toestand, dan nie?”

Bronne: The Telegraph, UK Mirror, NY Times