Die 21-jarige veeartsenytegnikus van Santa Maria in Kalifornië het haar ouma Dona se hond in ’n kombers toegedraai en dit by die hospitaal ingesmokkel. 

Dona is opgeneem nadat sy amper verlam is weens ’n teenreaksie op medisyne.

“My ouma kon twee dae lank nie loop nie. My oupa sukkel met sy gehoor, so hy sou nie kon hoor as sy val nie. Hy sou waarskynlik eers ure daarna daarvan bewus raak,” het Shelby aan metro.co.uk gesê.

Shelby wou iets doen om haar ouma se tyd in die hospitaal draagliker te maak. Sy het toe besluit om die hond te betrek.

“My ouma het Patsy 13 jaar gelede gekry toe dié net ’n paar weke oud was. Patsy moes met die hand gevoer word en kon in die palm van haar hand pas. Daar is ’n taamlike sterk band tussen die twee.”

Shelby het foto’s van die spesiale kuier getwiet. Dit het vinnig versprei en meer as 500 000 “likes” gekry. Dis 125 000 keer hertwiet.

Gebruikers het gehou van die kleindogter se gebaar. Een het selfs hul eie ervaring van hondesmokkelary gedeel.

Shelby vertel sy is amper betrap met haar verbode pakkie. 

“Patsy was die hele tyd stil. Sy het my arm aanhoudend gelek. Ek is taamlik seker een van die verpleegsters het iets vermoed, maar sy het weggeloop. Dankie tog!” 

Dona en Patsy se reaksie toe hulle mekaar sien was die risiko werd.

“My suster het sowat ’n jaar gelede ’n baba gehad, so ek dink my ouma het gedink dis hy. Toe ek by die kamer inloop, het sy gesê: ‘O, jy het die baba saamgebring.’ 

“Sy was so uit die veld geslaan toe ek Patsy op haar skoot neersit. Patsy het getjank en kon net nie naby genoeg aan haar kom nie.

“Ek was regtig bly ons kon dit regkry. Ek is seker dit het haar dag gemaak.”

Bronne: metro.co.uk, buzzfeed.com, boredpanda.com