Haar wond lyk beter ten opsigte van infeksie, vertel Natasha Erasmus, dogter van Reinette Erasmus (49), wie se borskas tydens rekonstruksie in ’n staatshospitaal erg vermink is.

verminkmain

Reinette het weens borskanker albei haar borste in ’n dubbele mastektomie verloor en daarna geldjies bymekaargemaak tot sy dit kon bekostig om haar borste te laat opbou. Maar dié besluit het in ’n lewende nagmerrie ontaard het.

“Daar is steeds infeksie, maar dis besig om op te klaar,” sê Natasha. “Sy is ook steeds op antibiotika. Maar ongelukkig is alles om haar een rib al basies weggevreet. ’n Mens kan letterlik jou vingers om haar rib sit; dis hoe ver dit al uitstaan. Intussen wag hulle nog vir uitslae van ’n PET-skandering.”

“Die dreineringspyp is verwyder uit haar linkerlong,” vertel Natasha verder. “Die asemhaling en drukking op die long is baie beter as voorheen. Hulle doen elke week bloedtoetse . . . Sy oefen daagliks haar linkerarm en sy kan hom darem al weer mooi gebruik.”

“Sy is steeds positief en sy glo in God se genesing. Hopelik gee hulle haar hierdie komende week ’n teaterdatum vir die operasie waartydens hulle die ribbebene gaan verwyder en eindelik hopelik daar kan toemaak.”

Haar ma huil sedert November elke dag, het Natasha vroeër uit Witbank aan Huisgenoot vertel.

Borskanker is in Julie 2014 by Reinette gediagnoseer, dieselfde maand waarin dit ook by haar ma, Maryna van der Heyde (67), gediagnoseer is. En net ’n bietjie meer as ’n week voor Reinette se diagnose, is haar pa, Batie van der Heyde (70), begrawe ná ’n lang stryd teen longkanker.

Weens ernstige depressie en trauma kon Reinette nie al die terugslae verwerk nie. Intussen het sy begin spaar vir ’n rekonstruksie in November verlede jaar.

Haar ouers het nie tot ’n mediese fonds behoort nie en het hul huis verkoop om te betaal vir ’n dubbele mastektomie, sê Natasha.

In November het sy vir die dubbele borsrekonstruksie gegaan. Die latissimus dorsi-spier links agter op haar rug is gebruik om die flappe vir albei borste te kry. Weens bestralingskade het die linkerborsrekonstruksie misluk, sê Natasha.

Nekrose (weefsel wat doodgaan) het ingetree en die flap aan Reinette se linkerbors het begin swart word. Sy is glo eers ’n week nadat hulle dit gesien het terug teater toe, waar die dooie dele verwyder en die vel saamgetrek is.

Sy het die pseudomonas aeruginosa-bakterie opgedoen en vier weke lank is gesukkel met suigmasjiene (wat wonde vinniger laat genees), salf, verbande . . . “Dan is daar nie ’n suigmasjien beskikbaar nie. Dan kan sy nie teater toe gaan vir wegsnyding nie, want daar is nie plek vir haar nie. En so gaan die lys aan,” vertel Natasha.

Medici het die wond glo toegedwing met steke en die vel gerek. Alle bloedtoevoer is afgesny weens die bestraling wat die vel styf gemaak en bloedvate beskadig het.

“Binne ’n dag was (die vel) dood. Alles het swart geraak,” sê Natasha. “Teen dié tyd was sy te swak vir narkose en moes hulle die steke kom losmaak en die swart vel kom afknip terwyl sy wakker was . . . Sy’s emosioneel gebreek.”

Sy was onder die sorg van dr. Carol Benn, voorste kenner van borsversorging ná ’n mastektomie. Reinette was ’n tyd lank in die Helen Joseph-hospitaal se borssorgkliniek en is toe op 23 Februarie oorgeplaas na die Charlotte Maxeke-hospitaal, ook in Johannesburg. Dr. Benn het alles in haar vermoë gedoen om te help en hou steeds ’n ogie deur op hoogte te bly met nuus van haar kollegas by die Charlotte Maxeke-hospitaal.

Die dokter het verduidelik die oorplasing is om die koste vir die familie so laag moontlik te hou.

Natasha-hulle wil haar ma bitter graag in ’n privaat hospitaal laat opneem, maar dit kan meer as R100 000 kos. “Sy het op die oomblik dringend die operasie nodig waar hulle die vrot ribbebene moet verwyder  en dan die borskas heropbou,” vertel Natasha.

“Ons weet nog nie hoe hulle dit gaan doen nie: of hulle ’n kunsrib gaan insit of titanium-plaat of wat nie. Maar (die gaping) moet regtig nou toegemaak word. Sy het ongelooflik pyn . . . Die Here het vir ons deure oopgemaak tot nou,” skryf sy op die Facebook-blad. “’n Wonderwerk is waarvoor ons bid.”